Harvesting Allowed!
Niemand wil verniet werk nie. Daardie geld dubbeld vir agterplaasboere wat hulle onafhanklikheid van die winkelrakke wil verklaar en hulle eie kos wil produseer so ver as wat hulle moontlik kan! Wanneer dit by oestyd kom, moet daar iets wees om te kan wys om al die sweet, bloed en trane te regverdig. Kortom, dit moet die moeite werd wees.
Om ‘n beloning te verwag, is ook nie selfsugtig nie. Tuinwerk is nie aldag maklik of lekker nie, en dit verg geweldig baie energie om ‘n Permakultuurtuin gevestig te kry. Soms ook geld.
En kom ons wees nou eenmaal eerlik – selfs wanneer ‘n mens meestal selfvoorsienend is, het jy geld nodig om die bietjie in te koop wat jy nie self kan produseer nie. En om daardie geld te kry, moet jy iets VERKOOP en om iets te KAN smous, moet jy iets Hê om te smous.
Ek sukkel nog om ‘n groentetuin aan die gang te kry. Op die oomblik het ek tamaties aan die groei. Italiaanse soustamaties – nie die soort wat orals heen groei nie. Ek sal graag genoeg wil oes dat ek ‘n paar bottels lekker pastasous kan inmaak. Dan hoef ek nie pastasous te koop nie. Dit spaar my geld. En dan kan ek daardie geld vir ander goed gebruik.