Goeie nuus en goor nuus…
Goeie nuus en goor nuus…

Goeie nuus en goor nuus…

Ek het die 7de verjaar. Nege en veertig jaar oud. DV vyftig jaar oud volgende jaar. Ek was nog nooit gepla oor my ouderdom nie, maar om ‘n halfeeu oud te word, is iets om te vier. En vier gaan ek vier!

Natuurlik is dit ‘n vol jaar! Ek het ‘n great kuseiendom gekoop wat ek stelselmatig wil ontwikkel tot ‘n plek waar ek net myself kan wees, en ek het groot planne om ‘n nuwe kreatiewe loopbaan af te skop.

En toe onthou ek wat ek vergeet het!

‘n Paar maande gelede het ek aansoek gedoen om toelating tot die Nagraadse Diploma in Biblioteekkunde aan Unisa. Ek het eerlikwaar nie gedink ek gaan toelating kry nie – ek het ‘n graad wat ek plek-plek nerf-af deurgeskuur het en nagraadse kwalifikasies soek oor die algemeen hoë punte! – maar vanoggend kry ek toe die brief: ek is toegelaat tot die kursus! Maar ek moet nog die toelating aanvaar.

En wat doen ek toe? Ek aanvaar die toelating!

Ja, Liewe Leser, ek weet dis ‘n ekstra skep hooi op my vurk, maar dis ook ‘n stukkie papier wat deure kan oopmaak vir afstandswerk, al sit ek op Koingnaas met ‘n 4G Datanetwerk wat net op Maandae werk!

Dit beteken ook dat my aanvanklike beplanning vir my 50ste lewensjaar heeltemal in sy kanon in is. Niks dramaties wild en woes nie, maar mooi meet en pas om alles bymekaar te hou. Dit KAN gedoen word. Ek het wilde voorsate en my DNA sê ek skrik vir bitter min. (Vikings en so aan!)

Die erf is ook so te sê op my naam. Die vorige eienaar het egter ‘n kleinhuisie vol agterstallige munisipale skuld wat eers vereffen moet word voordat die dokumentasie na die aktekantoor op Kimberley gestuur kan word. Maar dan is dit glo relatief vinnig

Ek vermoed sterk die Noord-Kaap werk op ‘n boesmankalender. Dis amper soos die Maja-kalender wat mense in 2012 so op hol gehad het, maar hierdie een werk met rotstekeninge en sterreformasies. Dis ‘n laaaaaaaaang, uitgerekte proses. Aan die een kant is dit geweldig frustrerend vir enigeen wat enigiets “gister al” gedoen wou gehad het, maar ek dink die “loop staan en wag”-manier van doen het ook sy meriete. My eie lewe is op hierdie stadium hopeloos te gejaag, en as hierdie skuif beteken ek moet tyd maak om na die sterre te kyk, is dit net tot my voordeel.

Dis egter ook vir my belangrik dat ek nie net sit en wag op beter dae nie, so selfs terwyl ek werk, studeer, katma en dogter is, moet ek nog altyd tyd inrig daarvoor om my woonstel bemarkbaar te kry, ‘n vars boek skryf vir sakgeld en oefen om goeie YouTube videos te maak.

Ja, ek kort nog ‘n paar arms! En ure in die dag. Maar slaap is opsioneel, of hoe?

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui