Ek het verlede Vrydag my foon opgegradeer, met die ekstra bonus van ‘n tablet daarby! Die foon is een van daai wonders wat nog net moet kan koffie maak en kinders bad voor hy kan trou – so ‘n platinum-grou Samsung – maar die tablet is doodgewoon. Dit pas my. Ek wil dit as ‘n e-leestoestel gebruik, en af en toe ‘n speletjie daarop speel, so ek gaan nie eens bodder met ‘n simkaart nie. Die meeste van my plekke het in elk geval WiFi, so daar is nie pyne met konneksies nie.
Daar is natuurlik ook die opsie (wat ek beslis gaan ondersoek) om ‘n goeie videoredigeertoepassing op die tablet te laai, dat ek met ‘n relatief klein pakkaas kan klaarkom vir wanneer ek eendag reg is om hierdie projek volledig te dokumenteer.
Die ander rede vir die tablet is dat ek ‘n rekenaar soek wat ek met my kan saamdra, maar wat nie so swaar en bonkig soos ‘n skootrekenaar is nie. Die kassies met sleutelborde is duur, maar ek voel dis die geld werd.
Ja, ek is ‘n geek!
Daar is ‘n nuwe rekenaar ook in die beplanning – weer eens ‘n speelding wat netjies in ‘n hoekie van my lessenaar kan pas, met die sleutelbord en muis heeltemal los en ingeboude Wi-Fi senders en blou tande en al daai ekstra katoeters en meghefters wat my lewe sal vergemaklik, maar nie ‘n plaas se prys kos nie. Ek is nie ‘n “gamer” nie, so ek het nie ‘n vreeslike duur rekenaaropset nodig nie. Wat ek wel soek, is iets wat by my leefstyl inpas, nie andersom nie. So as ek kan stories skryf en videos kyk, is ek heeltemal gelukkig.
Ons word hier in Suid-Afrika nie so erg deur internasionale handelstariewe beïnvloed soos die arme “Made-In-China” Amerikaners nie, so ek maak nogal gebruik van Temu. Hulle het cool klere teen pryse wat my sak pas, maar dis ‘n massiewe vlooimark! Lekker om daar rond te blaai, al is die versoeking nogal groot om k@k te koop. Ek kyk, en dan sit ek maar weer die ding op sy virtuele rak terug. Dit werk. Meestal.
Waar ek sukkel, is met al die aansteekspelde wat te koop is. Van hulle is ter ondersteuning van allerhande verdienstelike sake, maar af en toe is daar ‘n bietjie sarkasme en as mens mooi kyk, is van hulle nogal vreesaanjaend. Soos die een van “Don’t worry – I practised this on a doll once,” met die mediese simbool daarby. Ek weet darem nie heeltemal of ek ‘n dokter sal vertrou wat daardie speld dra nie, maar aan die ander kant sal dit gerusstellend wees as die arts dieselfde donker sin vir humor het as ek.
Wat my bootbouprojek betref, is ek op die oomblik so half in wat vlieëniers ‘n houpatroon noem, daar is nie veel wat ek kán doen om enigiets aan te jaag nie (ek wil ook nie), maar ek kan aandag gee aan van die ander goed wat moet gebeur om die projek te laat loop, soos om my woonstel reg te kry vir smous en om YouTube videos te kyk van mense wat doen wat ek wil doen, al is dit miskien onder ander omstandighede en in ander maateenhede. Soos voete! Mens kry idees en raad, en ek kan vrae vra. Dis belangrik.
En dis seker wat ek die meeste van hierdie hele Internet-ding waardeer – ‘n mens kan kers opsteek by iemand wat letterlik aan die ander kant van die planeet bly. En vra is verniet!
Wat ek ook wel nou vas besluit het, is om eiendom te koop en my eie bootwerkswinkel te bou. As mens nie ‘n argitektoniese wonder wil besit nie, kan jy heel goed regkom met staal, sementblokke en sinkplaat. En dan kan ek daai oorgrootte roldeur laat installeer. Ek hoef nie ysig-koue winters (met sneeu) in ag te neem nie, maar ek sal moet bou vir ons warm somers, met van daai “whirly-birds” op die dak. Hulle is nie duur nie, en nogal heel effektief, volgens mense wat weet.
Die ou van een spesifieke bootbouvideo bedryf sy werkswinkel met enkelfasekrag, so ek reken die elektrisiteit sal ook nie ‘n groot storie wees nie. Dit help. Ek is nie lus om met lektriek te sukkel nie. Die ander idee wat ek by hom gekry het, is dat al sy werksbanke op wiele is en hy kan goed maklik rondskuif. O ja, en hy het een van daai pakhuistrappe op wiele, so om op en binne-in ‘n boot te kom is nie ‘n probleem nie. Dit pas my. Ek het hoogtevrees en ek sien nie kans vir ‘n lendelam leer nie, so dis ‘n belegging wat ek beslis sal maak. En hy het 90% van sy meubels op veilingswebwerwe gekoop. Onder andere ‘n pizzatafel van ‘n restaurant wat dit nie gemaak het nie. Klink na ‘n gawe idee.
Dis net een rowwe gedagte. Maar menige rowwe gedagte het al in ‘n briljante idee verander.