Voor ek formeel met dié artikel begin: Ja, Retro, ek gáán swot! Dis goed om papiere te hê vir goed wat ek al meer as 30 jaar lank al weet! Papiere lyk deftig! En my CV lyk eina daarsonder! Deel daarmee!
Eers die groot issue. Soos ek voorheen geskryf het, sal ek mooi moet meet en pas wat my begroting betref. Ek is dankbaar dat die nuus nie so droewig is as wat ek gevrees het nie.
Die UNISA-webwerf is opgedateer vir 2026, en ek het ‘n kwotasie gekry vir die gelde wat ek hierdie jaar sal moet uithaal en wys. Die goeie nuus is dat ek altesaam so R31,000 aan studiefooie sal moet betaal, en die eerste paaiement van R10,000 is eers einde Maart betaalbaar. Ek gaan dinge natuurlik nie tot op die nippertjie los nie, maar dis bitterbaiegoed om te weet dat ek darem botter vir my roosterbrood sal kan bekostig, en miskien ook ‘n bietjie jam! Die bedrag sluit ‘n biblioteekkaart in, maar nie handboeke nie. Handboeke kan onderhandel word.
Die ding met UNISA is dat hulle ‘n langafstanduniversiteit is. Hulle het ‘n paar kampusse landswyd, maar hulle het nie koshuise wat onderhou hoef te word nie. Ek reken dit help om hulle fooie bekostigbaarder te hou as bv. NWU of UCT s’n! En die proffie hoef nie voor ‘n klas te staan en mooi lyk nie – solank daar nie radikale spel- en feitfoute in die studiegids is nie, is sy of haar werk grotendeels afgehandel.
Ek hoor nogal heelwat klagtes oor UNISA, maar ek kan eerlik sê dat ek nog nooit self probleme met die instansie gehad het nie. Inteendeel, ek het my aanvanklike graad deur hulle verwerf en as ek die UNISA van 1996 met die UNISA van nou vergelyk, is daar heelwat aspekte wat geweldig verbeter het.
Dis makliker om met die dosente in aanraking te kom as jy ‘n probleem met die werk het, om studiegeld te betaal vat ‘n hele 10 minute (dit sluit die rondskuif en konsolidasie van fondse in!), en om werkstukke in te dien is ‘n fees! Ek onthou hoe ek ‘n hele spul koerierplakkers by die poskantoor gekry het (ja, die poskantoor!) vir werkstukke wat op nommer nege-en-negentig-en-‘n-driekwart ten duurste gepos moes wees. En hoe ek spesiaal Proteapark, Kroondal en Tlhabane toe gery het, want daardie toue was korter!
Ek het nog altyd gevoel ek sal eerder ‘n miljoen werkstukke indien as om een eksamenvraestel te skryf, en in 2020/21 was dit juis die geval. Met Covid-19 moes akademiese instansies ander planne maak, en my laaste “vraestel” was ‘n omvattende werkstuk oor die hele module. Afrikaanse Letterkunde, met ‘n voorgeskrewe werk wat net gelees sou word as dit voorgeskryf was. Maar dit was goed. Nou kan ek ‘n onderwyskwalifikasie ook verwerf. (Ek wil nie, maar ek kán!)
Ek is een van daardie “lewenslange studente.” Ek hou daarvan om nuwe kennis bymekaar te maak. Dit hou my kop besig en gee my ‘n uitdaging. Ongelukkig is goewermentswerk baie eentonig, en hierdie leerprojek sal hopelik help dat ek nie maniere uitdink om van frustrerende kollegas ontslae te raak nie. Skrywers en biblioteektannies is goeie vriende met Google – ons vind gou uit wat reeksmoordenaars verkeerd gedoen het!
Skryf is ook hierdie jaar ‘n groot prioriteit. Elke dag iets, al is dit net ‘n paar woorde iewers in ‘n joernaal. Of hier.
Scrivener…
Die program het ‘n ingeboude hulpmiddel. Mens noem hom die F1-knoppie en as hy gedruk word, spoeg hy ‘n handleiding van net so onder die agthonderd A4-grootte PDF-bladsye uit. Ek oorweeg dit nogal sterk om hom vir myself uit te druk en te laat bind, dat ek die inligting byderhand het, maar dis geweldig baie papier wat ter sprake is. En ek weet nie of ek nóg ‘n stomp voorwerp in die huis nodig het nie. Ek gaan voor die einde van 2026 daardie program léér. Reken as Deon Meyer dit kan doen, kan ek ook! Ek het meer hare!
Ek het ‘n besigheidsrekening by Capitec oopgemaak vir al my skryfverwante geldsake: inkomstes, sowel as uitgawes. Dit sal die bietjie boekhouding wat ek het, geweldig vergemaklik, en dan kan ek ook vir myself wys wat ek uit woorde verdien het en of dit die ure se sit werd was. Ek sal die rekening in die komende week via FNB met my PayPalrekening laat verbind (my Paypalrekening is ‘n besigheidsrekening, daarom die besigheidsbankrekening!), sodat ek my koffiegeld (en later die handelswaregeld) kan onttrek as ek wil.
Die besigheid se naam is “Pindrop,” vernoem na die Google-pennetjie wat ‘n mens vir iemand stuur as jy aanwysings moet gee na ‘n spesifieke plek toe. Dis ook die ideale naam vir ‘n see-huis. En dit gaan werk vir die Engelse, want hulle weet nie wat ‘n plekspykertjie is nie. Dus…
So van koffiegeld gepraat… as julle dink my skryfwerk kwalifiseer daarvoor, druk asseblief die koffieknoppie en stuur my ‘n paar sente! Ek sal hierdie week sommer my Pindrop-bankbesonderhede ook daar iewers naby gee, as julle eerder met Rand wil betaal (Goedkoper ook, vermoed ek!).Ek waardeer dit geweldig baie – dit maak dat ek darem regte koffie kan bekostig!
Sterkte aan almal wat van môre af weer by die werk gaan wees!