Perma-WAT?!
Perma-WAT?!

Perma-WAT?!

Dit was min of meer my eerste reaksie toe ek van permakultuur gehoor het, so jy hoef nie alleen te voel nie.

Ek het een aand vir ‘n kennis vertel dat ek nogal baie belangstel in wat die Amerikaners “homesteading” noem. Daai hele konsep van om op ‘n lappie grond te boer met twee mielies, drie hoenders, ‘n bees, ‘n skaap en ‘n bok. En om elke somer bottels en flesse van alles in te maak, net ingeval, of sommernet. Die ironie was dat ek nie ‘n lappie grond gehad het nie, (en nog steeds nie het nie!) so hoekom ek daai mal gedagte in my kop gehad het, weet nugter.

Wayne het my egter net so op en af gekyk, gesien dat ek miskien nie heel te mal was nie, en toe gevra hoekom ek nie Permakultuur oorweeg nie. Ek dink my gesig was ‘n prentjie, want toe stel hy voor dat ek die konsep Google, en spesifiek ‘n persoon met die naam van Geoff Lawton.

En daar byt die gogga!

Hoe meer ek oor Permakultuur gelees en gesien het, hoe duideliker het dit geword dat dié nie bloot net ‘n tuinmaakfoefie is nie. Om die waarheid te sê, plante maak ‘n klein persentasie uit van die hele konsep. Dis eerder ‘n verandering van ingesteldheid en ‘n manier om dinge anders, met meer bewustheid van die omgewing om jou, aan te pak.

Ek het in 2020 my Permaculture Design Certificate-kursus voltooi. (2020 was nie ‘n goeie jaar vir kursusse nie, aangesien alles aanlyn gedoen moes word.) Ek het baie geleer uit die teorie uit, maar ek sal graag die kursus wil herhaal, met meer praktiese ervaring. Maar wat dit in die praktyk beteken is dat ek gekwalifiseerd is om oor Permakultuur te praat en te skryf en ook om ander mense te leer om dit te doen. Wel, laasgenoemde sodra ek meer praktiese ervaring het om oor te dra – dit sal mettertyd gebeur.

In ‘n volgende paar artikels, sal ek bietjie uitwei oor die etiek en beginsels van Permakultuur. Daar is drie etiese reëls en twaalf ontwerp-beginsels en dit kan letterlik orals toegepas word, nie net in ‘n tuin of op ‘n plaas nie. Die reëls en beginsels is ook nie gebonde aan enige geloofsoortuiging, omgewing, of politiese beweging nie, wat dit die ideale instrument maak om mense bymekaar te bring met ‘n gesamentlike doelwit – om meer selfversorgend te wees en om beter verhoudings met die natuur en mekaar te bou. (Dis natuurlik ook enige regering se nagmerrie, maar ek sal later meer dáároor skryf!)

One comment

Laat 'n boodskap na Johann Carstens Kanselleer die opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui