Om in die “Zone” te wees
Om in die “Zone” te wees

Om in die “Zone” te wees

Ek was nie vanoggend lus om te gaan werk nie. OK, ek is NOOIT lus om te gaan werk nie – sal eendag die rede hier verhaal – maar vanoggend was dit net erger as gewoonlik. Ek het actually in my kewer gesit en huil van nie-lusgeit.

Maar toe besef ek dat ek miskien iewers tog iets vir iemand beteken as ek by die werk is, en dat ek dalk ‘n rol het om te speel. ‘n Rooi kolletjie op ‘n kaart. Jy. Is. Nou. Hier.

Gister het ek per ongeluk ‘n “Flow State-” diagram gedruk wat ek van Pinterest afgelaai het. Ek sê “per ongeluk,” want ek het nie besef dis ‘n A3-grootte diagram nie! Dit is egter gedane sake, en die diagram is nou die agterblad van my boot se “flip file.”

Ek het gedink aan watter aktiwiteit(e) my bloed en gees laat vloei, dat hoor en sien om my vergaan en tyd nie meer ‘n faktor is nie.

Dit moet iets wees:

  • wat vir my saak maak,
  • wat ‘n ruk lank gaan hou,
  • wat my uitdaag, en
  • waarmee ek goed is.

En ek het toe besef dat my werk nie daar inpas nie. Nie eens op Maandae nie, en veral nie meestal nie!

Die aktiwiteite wat my van alles om my laat vergeet, en ook van die tyd, is my skryfwerk, om ‘n goeie boek te lees, en enige fisiese handwerkprojek. Daai spoeg-en-plak goed van die laerskool. Ek is nie ‘n goeie fotograaf nie – sal dit moet oefen tot ek goed IS – maar ek hou daarvan om plakboeke te skep. Ek is mal daaroor om ‘n joernaal by te hou – het ‘n paar, oor verskeie aspekte van my lewe – en om hierdie blog se artikels te skryf.

November is vir my heilig, nie net omdat dit my verjaardagmaand is nie, maar omdat dit tradisioneel NaNoWriMo was. Die organisasie is nou tot niet, maar ek gaan nie dat daardie feit my storie bederf nie. Novembermaande sal altyd skryfmaande bly.

Die ander groot ding wat my gees gelukkig maak, is as ek ‘n groot projek het waaraan ek werk. Veral as ek die finale prentjie in my verbeelding kan sien. Dit hoef nie vir enige-iemand anders sin te maak nie, maar as dit my siel laat sing, gee ek nie om om alles in te sit om daardie projek deurgevoer te kry nie.

Op die oomblik is my bootprojek op ys (in limbo, soos die Engelse sê). Ek is besig om papierbeplanning te finaliseer, verskaffers op te spoor, te kyk na hoe ander mense hierdie tipe bouprojekte aanpak, en te dink aan manier om dit te finansier wat my nie ‘n orgaan of twee gaan kos, of vir die res van my bestaan in die skuld gaan dompel nie.

Ek dink ook aan waar ek my basis gaan bou, want Suid-Afrika het nie fasiliteite vir bootbewoners soos die VSA en Europa nie. Ek sal sien. Ek sal graag Kaapstad my basis wil maak, want dis ‘n reisigersvriendelike stad, maar dis ook ‘n flippen duur plek! Al wat daai beteken is dat ek ‘n plan moet maak om elke maand genoeg te verdien om daardie waar te maak. Met ons Rand wat is waar hy is, is dit nie baie in Euro- of Dollarterme nie.

Aan die ander kant, as ek ‘n studio- of eenslaapkamer-grootte woonstel aanskaf, in ‘n “gewone” buurt, sal dit my nie baie kos nie en ek kan die paar meubels wat ek het, net so oor trek. Dan het ek iewers om na toe terug te kom en ek hoef nie te sukkel met huur óók terwyl ek bou nie. Cool. Die besluit is geneem!

Dit beteken egter ook dat ek ‘n groter hap van my pensioenfonds aan die bootbouprojek sal moet bestee. En harder moet werk aan ‘n alternatiewe inkomste. Want ek moet, nie omdat ek lus het en wil en kan nie.

Dis dus waar ek nou is (en rym!): besig met geweldig baie dinkwerk. Ek bly positief dat hierdie boot gebou sal word, ten spyte van al my vrese en trane. Ek moet net ‘n manier vind om dit prakties, moontlik en wettig te maak.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui