Soos ek al vantevore geskryf het, is Permakultuur ontwikkel rondom sekere reëls en beginsels wat universeel toegepas kan word. Vandag gaan ek meer konsentreer op die drie etiese reëls. Hulle is:
- Respek vir die natuur
- Respek vir my medemens
- Moenie gierig/inhalig/selfsugtig wees nie (“Fair share”)
Bill Mollison se bydrae tot Permakultuur het juis ontstaan deurdat hy tot die besef gekom het hoe die mensdom besig was om die natuur stelselmatig te vernietig. Volgens hom, moes daar ‘n manier wees om sáám met die natuur te werk waar beide mens én natuur se behoeftes in ag geneem kan word.
Baie permakultuurpraktisyns (ek soek nog na ‘n beter woord!) leef ‘n “groen,” lae-tegnologie lewe, ver buite die stad, waar hulle van hulleself en hulle bure afhanklik is. Sommige gaan so ver as om hulle motors te verkoop en met fietse en perdekarretjies oor die weg te kom, in nabootsing van die Amish gemeenskappe in die VSA. Dis ekstreem, maar dit werk vir hulle.
Ander bly weer in die stad, maar omskep hulle voor- en agtertuine in mikro-plasies, waar hulle nie net genoeg kos vir hulleself verbou nie, maar ook kan uitdeel aan liefdadigheidsorganisasies. Hulle herwin soveel as moontlik en leef heel gemaklik met wat hulle self kan voorsien sonder om hulle bure te ontstel of om hulle moderne gerief prys te gee.
Vir my gaan dit daaroor om bewus te wees van wat ek eet, drink en aantrek en om nie onnodig gebruik te maak van chemiese oplossings nie. Dis vir my ‘n uitdaging om outydse “we cooked-“resepte uit te probeer, al is dit met die hulp van moderne kombuismeghefters sodat ek nie heeltyd bang is my vingers bly in die slag nie. Dis groot porsies en ek vries heelwat daarvan sodat ek ‘n volgende keer weer daarvan kan eet. Ek herwin soveel moontlik sonder dat my plek soos ‘n kraaines lyk (met gemengde welslae) en probeer my bes om Suid-Afrikaanse (en plaaslike familie-) ondernemings te ondersteun met wat ek koop.
Medemenslikheid is ook vir my belangrik. Ja, ek het al baie seer gekry omdat ek myself te veel blootstel, maar vriendelikheid kos nog steeds niks en om ‘n bottel lekker yskoue water met ‘n glimlag (en ‘n ordentlike fooitjie) vir ‘n karwag te gee wat heeldag in die warm son staan gaan my regtig ook nou nie armer maak nie. Dis klein goedjies wat ‘n groot verskil kan maak in ‘n ander mens se lewe.
Die derde etiese reël gee die meeste probleme. Mense is inherent selfsugtig en inhalig (Dis twee van die sogenaamde “deadly sins!”) en dis moeilik om dié gedagte van om nie gierig te wees nie te versoen met die beginsel van om ‘n wins te maak/opbrengs te lewer. Ook nie net in die Permakultuurgemeenskap nie. Wanneer is ‘n wins té groot?
Daar is Permakultuurmense wat baie geld maak, uit hulle boerderye uit, asook uit wat hulle publiseer en op YouTube uitsaai. Hulle ploeg egter ook terug in hulle gemeenskappe, juis deur plaaslike inisiatiewe te ondersteun en te bevorder. Geeneen van hulle is lui nie, want dit kos baie werk om al die verskillende stelsels aan die gang te kry en te onderhou. Volgens my eie beskeie opinie, is daar niks mee fout om geld te verdien nie, maar dit moet nie gebeur deur die natuur en jou medemens uit te buit nie en ‘n deel daarvan moet weer teruggeploeg word in die plaas/onderneming en in die plaaslike gemeenskap in.