Permakultuurbeginsel 5: Gebruik en waardeer wat die Natuur jou gee
Permakultuurbeginsel 5: Gebruik en waardeer wat die Natuur jou gee

Permakultuurbeginsel 5: Gebruik en waardeer wat die Natuur jou gee

Hierdie beginsel hang nou saam met beginsel 2, die een van om op te vang en te behou, maar dit strek wyer as bloot die opgaar van water en elektrisiteit. Hierdie beginsel behels ‘n bestekopname van al die natuurlike hulpbronne tot jou beskikking en hoe om dit ten volle te benut.

Tom Kendall, by wie ek my permakultuursertifikasie afgelê het, se eks-vrou het niks van die idee gehou dat ‘n mens drinkbare water vir toilette moet gebruik nie, en hulle het kompostoilette op die plaas gehad. Daardie “humanure” is dan weer verouder (soos gewone kompos, net eenkant) vir twee jaar en gebruik om die vrugteboord te bemes. So word die patogene onskadelik gemaak en die natuurlike siklus benut.

‘n Ander natuurlike hulpbron is gesinslede, of hulle nou wil wees of nie. Dit beteken nie dat almal noodwendig ‘n halfdosyn kinders moet hê nie, maar vele hande maak ligte werk, in baie opsigte. Dit beteken dan ook dat buurmense en ander gemeenskapslede wonderlike hulpbronne is, al is hulle nie noodwendig gratis nie.

Hier word ruilhandel ‘n opsie. Ruil van vaardighede en goedere vir ander vaardighede en goedere, tot almal gelukkig is en alles gedoen.

Dan is daar ook goed soos sand en klip, vir boumateriaal. Bye, vir bestuiwing, heuning en was. Hoenders, vir ‘n hele klomp goed. Inheemse doringplante wat as hegplante gebruik kan word (met ‘n bonuspunt as hulle eetbare vrugte dra!). Die lys duur voort.

Waarop dit in Afrikaans neerkom, is dat ‘n mens dankbaar moet wees vir wat jy het, en dan daarmee moet woeker.

Op Koingnaas strek daardie lys ‘n bietjie verder. Al is die dorp nie téén die Weskus nie, is dit steeds naby genoeg om te gaan visvang, en die mis wat in die hoogsomermaande van die see se kant af opkom, is ook ‘n goeie hulpbron, as dit reg opgevang word. Daarby is die wind sterk genoeg om krag mee op te wek waarmee oonde en droërs bedryf kan word sonder om die batterystelsel te belas. Dis belangrik, want vriesdroërs is nie net duur nie – hulle elektrisiteitsverbruik is ook baie hoog. Ja, ek oorweeg dit nog steeds om een te kry, maar koste-per-keer geld in hierdie geval. As dit nie iets is wat ek gereeld gaan gebruik nie, gaan dit nie gekoop word nie.

Die ander hulpbron wat ek ten volle gaan benut is die son. Nie noodwendig net vir sonpanele nie – ek wil waterverhittingstelsels inbou en ook ‘n droër vir vrugte en kruie. Dit sal net ‘n gewone droër wees, maar ek glo die groente en vrugte wat ek so droogmaak sal in elk geval opgeëet wees voordat dit bederf. Dis ook ‘n goeie manier om vrugterolle te maak, en groentepoeiers vir sop en souse.

Hier sluit ek natuurlik weer terug aan by om nie te mors nie, maar ‘n ander hulpbron wat so te sê verniet is, is kompos. Wat ek egter wil doen, is om ‘n bokashi-emmer te maak vir die afval van die verskillende aftreksels wat ek kook, maar ook vir kos wat vrot word in my yskas. Op dié manier word niks gemors nie, en die inhoud van die bokashi-emmer kan later op my komposhoop beland en weer iets in die tuin beteken.

Permakultuur is ‘n geslote sisteem-boerdery (of tuinmaakproses!) met al die afval wat deur die loop van die seisoen gegenereer word weer op een of ander wyse teruggeploeg in die tuin in. Op hierdie manier kan insetkoste laag gehou word, energie bespaar word en ‘n goeie opbrengs gegenereer word met relatief min moeite. En dis presies wat ons almal op ons oudag wil hê!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui