Vorige beginsels het klem gelê op die geslotenheid van ‘n Permakultuursisteem as ‘n geheel, met min insette van buite af en amper geen neweprodukte/gemors wat uitgaan nie. Hierdie beginsel gaan oor die manier waarop verskeie stelsels binne ‘n Permakultuursisteem mekaar aanvul en hoe die uitsette van een sisteem weer die insette van ‘n ander kan word.
‘n Goeie voorbeeld daarvan is die manier waarop ‘n kruietuin en byeboerdery ‘n seeptuisnywerheid van grondstowwe kan voorsien, en hoe die seep dan ‘n kontantbron vir die agterplaasboerdery kan word. Die kontant kan weer gebruik word as betaalmiddel vir goed wat nie self geproduseer kan word nie.
‘n Ander voorbeeld is ‘n hoenderhok met ‘n halfdosyn lêhenne. Die hoenders gee bemesting, behartig plaagbeheer, skrop die grond om en gee eiers, wat of vir eie gebruik, of as ‘n inkomstebron ingespan kan word. En as die hen te oud word vir eiers le, word sy Sondagmiddagete.
‘n Derde voorbeeld is die heg. Digte doringplante verskaf sekuriteit vir die eiendom, maar ook nektar vir die bye en eetbare vrugte vir wilde (en mak) voëls en diere, en die mense wat daar bly.
Dié kan deurgetrek word tot by die komposhope. Omdat die toilette almal kompostoilette is, word die mensmis saam met strooi en klapperhaar vir ‘n jaar verouder en sal daardie kompos weer by die vrugteboord ingewerk word. En so bly die hulpbronne op die perseel.
Elke plant, klip en watersloot het sy eie rol om op die erf te speel. Bye speel verskeie rolle en selfs die manier hoe die tuin beplan is, help om alles op die erf vlot te laat verloop. Dis belangrik, nie net in terme van kostebesparings nie, maar ook wat werk betref. Permakultuur gaan oor effektiwiteit – die meeste resultate met die minste moeite.
Ek begin my eie Permakultuur-projek op 51-jarige ouderdom. Ek kan nie as jonk beskou word nie, en boerdery is fisies moeilik, maak nie saak hoe ‘n mens daarna kyk nie. Die manier hoe Permakultuur my lewe gaan vergemaklik, is dat die meeste harde arbeid gedoen gaan word terwyl ek nog die krag daarvoor het, en dat ek na etlike jare net die onderhoudswerk hoef te doen. Nog steeds werk, maar niks wat my rug gaan breek nie.
En dis waarvoor die Engelse kruiwaens en trekwaentjies uitgevind het!