Eers die bos, dan die bome.
In sy boek, 7 Habits of Highly Successful People, wy Stephen R Covey ‘n hele hoofstuk daaraan om ‘n projek te begin met die einde in jou gedagtes. Die idee is om ‘n prentjie in jou kop (of op papier) te vorm van hoe die voltooide projek moet lyk, en dan van daar af terug te werk tot waar jy op daardie oomblik is.
Met Permakultuurbeplanning is dit baie dieselfde. Nadat al die nodige invloede in ag geneem is – wind, water, vuur, son, ensovoorts – word die terreinplan geteken. Met dié geheelbeeld voor oë, kan ‘n Permakultuurpraktisyn dan mooi bepaal waar watter strukture en plante moet kom, maar ook wat die prioriteitslys is, na gelang van seisoen en besondere omstandighede. Dit help hom/haar om nie holderstebolder in situasies in te foeter waar selfs dommerike dit nie waag nie, en spaar baie geld, tyd en … wag hiervoor … moeite! Want niemand wil hulleself onnodig doodwerk nie.
Ek vertel gereeld vir mense dat Permakultuur die resultaat is van ‘n besluit tussen ‘n hippie en ‘n ingenieur om saam te begin boer. Die hippie gee die “vibe” en die ingenieur skep die struktuur. Albei is nodig vir die konsep om te werk.
Bietjie persoonlike nuus:
Soos wat ek hier sit en tik, lê my papierwerk by die aktekantoor in Kimberley, met die belofte dat die kaart en transport nog in 2025 op my naam geregistreer sal wees. Ons sal sien, want die Noord-Kaap het hulle eie begrip van tyd. Maar die hoop beskaam nie.
Intussen het my vriend Retro (!!!) my lewe weer verryk met nie net ‘n goeie webwerf vir erfplanne nie, maar ook die kontakbesonderhede van plaaslike mense wat miskien moontlik dalk as ek mooi vra kan help met praktiese aspekte soos heinings en slote en só. Soos altyd, is hy ook ‘n goeie klankbord, en ‘n groot invloed op hoe ek besig is om die terreinplan van my Koingnaaseiendom op te stel.
Ek het besluit om saam met die erf te werk, en met wat reeds daar aan’t gebeur is. Wat dit beteken, is dat ek die deurlooppaadjie gaan gebruik as my gids om my toegangspad te bou, asook om die slote vir die “swales” vir my voedselwoud te grawe. Die opstal sal dus effens moet skuif, maar dit sal nie ‘n ramp wees nie. Ek sal ook net by die bouregulasies moet hou – soort van! Die Oostelike grens sal versterk word deur doringplante as ‘n heg te vestig, en daardie plante sal hoofsaaklik van grys- en reënwater afhanklik wees, met ‘n bietjie drupbesproeiing om hulle net eers gevestig te kry.
Dis die plan en wat op die prentjie staan, maar ek weet nog nie watter plante ek gaan insit nie. My prioriteit is om die plek omhein te kry, so dis die bedrag wat ek gaan begroot om mee te begin. Sodra ek reg is om daar te gaan woon, sal ander aspekte soos die water- en elektrisiteitsvoorsiening aandag begin kry. En so aan en so voort.
Alles omdat die totale prentjie in plek is.