Fondasies en Vinne
Fondasies en Vinne

Fondasies en Vinne

Ek het weer gedink omtrent die hele bootbou-gedagte. NEE! Dis nie van die baan nie. Inteendeel, die doelwit het so pas struktuur gekry wat al die mense in my lewe gelukkig sal maak. En myself, ook.

Soos ek al vantevore laat weet het, was ek tevergeefs op soek na die regte werkswinkel vir die bootbouery. Ek het daardie soektog opgegee. I quit! Waarop ek besluit het, is om soveel as moontlik van die probleme met een oplossing aan te spreek. Ek het ‘n hele paar dinge om aan aandag te gee: ‘n Werkswinkel, naby die see, en iewers om te bly. En ook iewers om na toe terug te keer wanneer ek nie op see is nie. Daarby moet dit ook in ‘n relatief veilige en rustige omgewing wees, want dis wat my siel nodig het.

Waaraan ek dink, is om ‘n erf te koop en ‘n huis en werkswinkel daarop te laat bou. Ek kan dan my boot bou teen my eie tempo, met nog steeds ‘n vaste fondasie onder my … voete! Ek kan nog steeds skryf en alles doen wat my siel laat sing, en alles sal betaal wees en ek hoef nie onnodig te stres nie. Ek is reeds angstig. Ek het nie meer daarvan nodig nie.

En ek weet ook waar ek wil woon en werk.

Die lekkerte van hierdie nuwe gedagte is dat ek my brood aan albei kante gebotter en gejam gaan kry, met nog biltong en kaas daarby! Ek gaan nie net my boot kan bou, met die vooruitsig van ‘n solo-lewe op see, nie, maar ek gaan ook ‘n “buite” hê van my eie. Ek sal weer ‘n poging kan aanwend om ‘n groentetuin en vrugteboord te plant. Ek sal my elektriese behoeftes met sonpanele en windturbines kan bevredig. En ek sal kan asemhaal in ‘n omgewing met vars lug.

Waar? Nee, daai is nog ‘n geheim. Ek kan altyd droom, maar tot die beer geskiet is, sal ek nie die vel kan verkoop nie. En ek sal eers al my varkies bymekaar moet kry en my woonstel in die mark voor ek enige radikale besluite kan neem.

Weet net, wanneer daardie besluit geneem word, sal dinge baie vinnig gebeur. Ek noem dit hier, want ek wil nie hê mense moet dink ek is buitengewoon impulsief nie. Veral nie die meeste van my mense nie.

One comment

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui