Ek bevind myself deesdae in daardie stilte voor die chaos. Dis ‘n hiperproduktiewe stilte, maar meer agtergrondwerk en voorbereiding as enigiets anders. Aan die begin het dit my frustreer, maar nou dat die verskillende legkaartstukke in hulle plekke is, lyk die prentjie baie interessanter.
In vorige artikels het ek geskryf dat ek besluit het om myself iewers net weg van die kus af in te grawe, die boot rustig klaar te bou en dan te laat vervoer na die naaste Transnet hawe toe vir inspeksie en registrasie. Een gedagte het gelei na die volgende en op die oomblik het ek ‘n redelik duidelike prentjie in my kop van wat gedoen moet word om hierdie proses te vergemoontlik.
En deel van die proses is om ‘n boulisensie op te doen!
Niks dramaties nie – net registrasie by die NHBRC as iemand wat min of meer kapabel is om ‘n houtstruktuur op te rig, ‘n redelik heftige fooi om te betaal en dan moet ek die nodige oopboekeksamen aflê. My broer reken as hy dit kon doen, behoort ek ook.
Houtkonstruksie is vreemd in Suid-Afrika. Ons ken bakstene. Maar dis nie onmoontlik nie, en houtraamgeboue bou redelik vinnig tot op dakhoogte, veral as die panele vooraf aanmekaargesit word. Dis nou volgens die Universiteit van YouTube. Gelukkig is ek redelik goed met houtwerk en daar is heelwat saagmeulens op die Tuinroete wat die nodige hout kan verskaf. En dis ‘n verskoning om nuwe speelgoed te koop! Wat ek nie weet of voor kans sien nie, kan ek uitkontrakteer. Goed soos ‘lektriek, water, dak, die beton in en om die gebou en die fisiese installasie van die windturbines en sonpanele. Aan die ander kant – die goed wat ek ek self kan doen, sal self gedoen word! Nie om geld te spaar nie – kontrakteurs kan baie keer afslag beding wat ons gewone mense nie kan nie – maar omdat ek ontspan wanneer ek besig is om met my hande te werk. Terapie. En dinktyd.
Ek het ‘n bouplan raakgeswerf wat al die elemente bevat wat ek graag wil hê – ‘n groot werkwinkelspasie met die regte grootte roldeure en ‘n eenslaapkamerwoonstel aan die een kant vas, alles op grondvlak. Dis ‘n massiewe dakoppervlakte vir sonpanele, windturbines en om reën mee op te vang en groot genoeg dat ek ‘n redelik groot “buite” sal kan hê vir alles wat ek wil bereik. Die bouplan is duur, want dis in Amerikaanse Dollar, en ek sal nog steeds iemand moet kry om ‘n terreinplan op te stel wat ek by die plaaslike owerheid kan indien. Dit gaan nog steeds minder van ‘n pyn in die watsenaam wees as om ‘n geskikte bouperseel en woonplek in die stad te soek wat ek net ten duurste kan huur. Platteland, berge, gemoedstilte en baie plek om kreatief te wees. En as ek die regte omgewing kies, sal dit ook nie uit alle beskaafde koerse uit wees nie. Dis belangrik.
Dis die spreekwoordelike twee vlieë met een klap, maar miskien nader aan die Broers Grimm se “Sewe met Een Hou”-kleremaker! Ek het nie ‘n idee wat ek doen nie, maar solank ek dit met entoesiasme aanpak, is alles dood-dollies.