Om ‘n aangenome kind te wees, het sy voordele. Ek weet ek is grootgemaak deur ouers wat uitgesien het na my koms, en wat my beplan het en wat baie lief is vir my. Hulle is my ma en my pa en al was en is daar konflikte en geskille, is daar geen twyfel by my dat hulle my ouers is nie.
My probleem is dat ek geen stories het nie. Ek het nie ‘n oupagrootjie wat sy onderwyspos op Volksrust verlaat het om net gou vinnig teen die Engelse te baklei, en wat ná die oorlog weer sy werk hervat het nie. Ek is nie ‘n naverwant van ‘n Boeregeneraal wat later ‘n Eerste minister geword het nie. Ek weet nie na wie ek lyk nie en ek het geen idee na wie ek aard nie. En ek weet nie hoe laat ek gebore is nie. (Dis ‘n simpel vraag, ek weet, maar dit krap al jare lank aan my!) Kortom, daar is ‘n groot gat in my geskiedenis.
Wat ek laas Oktober gedoen het, is om vir myself een van daardie tuis-DNA-toetsstelle te koop (MyHeritage.com s’n!). Natuurlik het dit maande gevat voor dit uiteindelik by my uitgekom het (dis ‘n ander storie!) en ek het uiteindelik aan die einde van Januarie die epiteelselmonster ingesamel en vir my skoonsus gegee om te pos wanneer sy en my stiefboet weer terug is by hulle huis in Mobile, Alabama.
So gedaan.
Ses weke later (nie ses minute soos op CSI op TV nie!) het ek uiteindelik ‘n DNS-ontleding en ‘n aanduiding van waar my voorsate min of meer vandaan kom. Die grap? Ek is so gewoon as wat ek maar kán wees. Geen Kossakke of Vikings in my voorgeslagte nie. Ook nie Iere of Spanjaarde of Sigeuners of ‘n verdwaalde oliesjeik nie. Net bloot ekke.
Net so onder die helfte (48,4%) van my gene kom uit die Nederland. Die toepassing kwalifiseer dit hard en duidelik as die “Suid-Afrikaanse” variant, wat van die Kaap tot in Zimbabwe voorkom. Die volgende groot blok is – skokkend genoeg – Engels! ‘n Hele 13,7% van my! Vervolgens is ek 12,8% Germanies, 11,2% Deens, 7,3% Frans, 3,7% Portugees, 1,5% Wallies/Skots en 1,4% Noord-Italiaans.

Hierdie mengsel verklaar my ligte vel en miskien ook my koppige en rebelse natuur, maar toe ek eers mooi gaan sit en dink het, was die gedagte wat by my opgekom het nogal groot…
Al die verre voorsate wat tot my DNS bygedra het, was mense wat op ‘n stadium hulle goed gevat en getrek het, op soek na vars vooruitsigte en nuwe geleenthede. Dis mense wat uit Europa uit gevlug het, rebelle en avonturiers. Daar is stories wat ek nie ken nie, van mense wat nie meer daar is om hulle te vertel nie. Dit maak my nogal hartseer, maar nou het my eie vrugbare verbeelding darem bietjie struktuur.
Deel van die pakket is ‘n lys van ander mense wat moontlik verwant kan wees. Ek gaan nie jok nie – ek sou nogal graag ‘n familielid wou teëkom – maar die naaste kandidaat is ‘n tannie van in die negentig wat ‘n niggie is van een van my grootouers. Dis vérlangs familie en tel amper nie. Daar is natuurlik nader moontlikhede ook, maar ek vermoed die “uitvind” is net beskore vir dié wat betaal daarvoor. Ek sal. Betaal, bedoel ek. Maar later vanjaar. Moet net eers my geldsake uitsorteer. Die voordeel van die betaling, is dat ek dan ‘n hele paar ander opsies ook het wat die sorteer van moonlike familie betref, en ek sal dan ‘n ordentlike stamboom kan saamstel.
In kort, my eie storie!
NS. ‘n Ander webwerf het te vertelle ek het wél ‘n hele spul Viking-bloed in my are. Dis waar die Deense en Skotse gene vandaan kom! En as ek reg onthou, was die Germane ook maar ‘n spul barbare! Dit maak perfek sin, vir almal wat my goed genoeg ken! Maar iewers het iets verkeerd geloop, want ek is die kort soort. En ek het nie blou oë en blonde hare nie. Ai…
Iets anders, so half tersyde…
Ek wonder of die gat in my storie iets daarmee te doen het dat ek so angstig, gespanne, selfkrities en doelgedrewe is. Ek wil uitstaan – nie net ‘n tropdier wees nie. En as ek buitengewoon buitengewoon kan wees, soveel te beter.
Maar vir die volgende paar maande, gaan ek moet fokus op kalmte en voorbereiding. Die idee is gevorm en die geleentheid geskep. Dis nie ‘n verniet-geleentheid nie – soos ek reeds vroeër gesê het, gaan dit alles verg wat ek het en is om hierdie plan te maak werk. Die kopskuif is die moeilikste – en ek sukkel om van my ou gewoontes ontslae te raak. Dié projek van 1000 woorde per dag help nogal, want ek word betaal om elke dag daai knoppie te druk. (Breukdele van sente, maar geld is geld en ‘n goeie motivering vir baie dinge waarvoor ek normaalweg nie lus is nie.)
Die ander ding wat ek myself dwing om te doen is om te ontklotter. Hulle sê daai woord is ‘n gruwelike taalgogga, maar ek kon nog nie ‘n goeie Afrikaanse ekwivalent vir declutter kry nie. “Skoonmaak” is nie dieselfde nie. Hierdie naweek is dit my groot plastiekwarelaai se beurt. Behalwe die bakkies en deksels wat nie pasmaats het nie, het ek baie “ekstras”. Dit gaan meer moeite kos as waarvoor ek lus is, maar ek vermoed as dit eers gedoen is, sal ek baie goed voel oor my prestasie. Want ja, ‘n prestasie sal dit wees!
Die hoofrede vir hierdie “daaglikse doelwitte” is om dissipline aan te leer en nuwe gewoontes te skep. Ek doen nie goed met stokke nie, maar die wortel is altyd vir my baie aanloklik. Daarby is dit nogal vir my lekker om te weet ek het ‘n sekere doelwit wat ek moet bereik, en om daardie blokkie af te merk as die werk afgehandel is. (OK, ek plak gesiggieplakkers. Dis dieselfde ding, net meer kleurvol!) En ek moet dalk ‘n plan maak vir ‘n roomysbeloning na elke vyftien plakkers. Nando’s het eindelose roomys op hulle spyskaart gesit, vir as mens IN die restaurant eet! Sê maar net…