
Ek het jare terug Paulo Coelho se The Alchemist vir die eerste keer gelees. Dis een van die boeke wat ek in die biblioteek gelees het, en toe besluit het dat dit ‘n boek is wat ek eerder moet besit. Ook maar goed so, want nou kon ek na hartelus onderstreep en beklemtoon en notas in die kantlyne maak.
Dis nie ‘n dik boek nie en die storie is eintlik eenvoudig, maar met diep wyshede. Ek gaan niks bederf nie – koop en lees hom sélf!
My broer was bietjie reg. (Nie baie nie. So ek gaan hom nie té veel krediet gee nie.) Dis beter om iets kleiner te bou as ‘n oefenlopie, en as ek dan oor ‘n paar jaar voel ek het ‘n groter boot nodig, dan kan ek altyd groot gaan met die tegnieke wat ek reeds ken.
Die soektog na ‘n geskikte bouperseel was een frustrasie op die ander. Die meeste (hipermoderne, baie mooi) industriële “parke” se werkswinkels het net ‘n enkelgaragedeur. En nee, hulle is nie so duur as wat ek gedink het nie. Dis nogal plekke waar ek lekker kan werk, met kantoorgeriewe en alles! Die probleem was dus nie die werkswinkels nie. Hulle was standaard en oor die algemeen heel goed ingerig.
Die probleem was die boot. En my houding.
Ek gaan nie meer ‘n seiljag bou nie. Ek is nie ‘n seilmens nie. Ek is ‘n enjinmens – as ek die sleutel draai, moet iets knor, of – wel – IETS. En dan moet die boot beweeg. En ek wil nie buite in die wind en weer staan en die boot bestuur nie. Ek wil lekker binne sit met ‘n beker warms of ‘n glas kouds in die hand, met groot glasvensters om my, en ‘n ordentlike dak bo my kop. En ek soek nogal “creature comforts” soos ‘n netjiese galei en ‘n sitkamertjieding waar ek kan sit en stories skryf. En – bo alles – wil ek bietjie spasie hê.
Dit bring my terug na die begin toe, en die oorspronklike ontwerp wat my in die eerste plek by Glen-L Marine Designs laat beland het – die Jolly Roger. (Ja, tot die ontwerp se naam is cool!) Ek het nooit besef dat daardie boot óók uit spons en veselglas uit gebou kan word nie. En dis ‘n kleiner bootjie as die seilboot, so ek hoef nie pyne te ontwikkel met die skipperslisensie nie. Ek kan hom seevaardig maak sonder te veel moeite, want daar is meer plek om goed aan die dak vas te sit, ek kan presies dieselfde elektriese motor laat inbou, met al die toebehore en kontroles netjies bymekaar en – ten slotte! – ek gaan nie sukkel om ‘n behoorlike, bekostigbare werkspasie naby die see te kry nie!
En dis ‘n “cute” ontwerp ook, wat lyk soos die Pop-Eye bootjie wat ek op daardie oorsese webwerf gesien het. Kleiner, maar dieselfde hans houding. Ek kan daarmee saamleef.
Die doelwit het nie verander nie – ek sal nog steeds ‘n stewige boot hê waarop ek en die pelsjasse letterlik die wêreld kan gaan verken, en waarop ek kan stories skryf en YouTube-videos maak van al die interessante plekke wat ek beplan om te besoek. Dis ‘n gegewe. Die “Hoekom?” het beslis ook nie verander nie. Maar die roete en die metode lyk heeltemal anders. Eenvoudiger, praktieser, en beslis heelwat goedkoper!
Ek sal DV in Augustus die bouplanne vir die Jolly Roger-weergawe van Pindrop bestel, en dan – soos met die woonstel destyds – stelselmatig al die materiaal bymekaarmaak. Die groot goed sal ek laat aflewer as ek eendag weet waar, maar niks keer my om intussen al die handvatsels en ander passtukke en toebehore aan te skaf nie. Klein goedjies. Bietjie-bietjie.