Rather than stating, “I can’t afford it,” rich dad would ask, “How can I afford it?“
“One lets you off the hook, and the other forces you to think,” Kiyosaki writes. “By automatically saying the words ‘I can’t afford it,’ your brain stops working. By asking the question ‘How can I afford it?’ your brain is put to work.”
“‘I can’t afford it ‘ also causes sadness, a helplessness that leads to despondency and often depression,” he continues. “‘How can I afford it?’ opens up possibilities, excitement, and dreams.”
Vóór Robert Kyosaki ‘n slagoffer van sy assosiasie met Donald Trump geword het, was hy beskou as een van die wêreld se grootste gurus op die terrein van persoonlike finansies. Wat hy geskryf het, is egter vandag nog van toepassing.
Ek het lankal besluit dat ek nooit weer gaan wonder óf ek iets sal kan bekostig nie, maar eerder ‘n plan uitwerk van hóé ek daardie ding gaan bekostig. En hy was reg – ‘n mens moet nogal baie hard dink. Partykeer is die antwoord ook eenvoudig: nie nou nie.
Die Koingnaas-erf is gekoop. Die geld is vanmiddag in die prokureurs se rekening inbetaal (na ‘n lang gesukkel om die verkoper en die prokureur aan die gang te kry!) en behoort teen die einde van die week in hulle boeke te wys. Ek kry die eiendomsagent, Maureen, nogal jammer. Dis seker die meeste gewag en gesukkel agter ‘n baie klein kommissietjie aan. (Die ander – ontwikkelde – eiendomme in die omgewing maak op daarvoor! Peperduur!)
Die volgende stap is om vir die stadige prokureurs te wag om die stadige verkoper in die hande te kry sodat enige munisipale kostes vereffen kan word en dan moet die hele pakket na die naaste aktekantoor toe gestuur word om dáár verder geprosesseer te word. Mense wat weet het te vertel dat dit tot ‘n jaar kan vat van betaal tot eiendomsreg. Gelukkig het ek tyd om te wag. En te dink. En te beplan.
Van hierdie maand af, gaan ek mooi moet meet en pas wat finansies betref. Ek gaan meer water as koeldrank moet drink en meer groente moet eet as vleis. En miskien hier en daar ‘n luukse moet sny. En natuurlik moet vinger trek met die skryfwerk saam! Maar die finale uitkoms is dat ek binne vyf jaar – DV – die trotse eienaar van twee eiendomme sal wees, albei ten volle afbetaal en teen my naam geregistreer. Dis belangrik.
Intussen kan ek die twee bouplanne aankoop wat ek wil kombineer, en sommer hier in Rustenburg laat oorteken en ver-Suid-Afrikaans. Ons houtmate is anders en ons werk ook in Meter en Millimeter, nie voete en duime nie. En ‘n formele terreinplan optrek wat die huis en buitegeboue insluit. (Volgens Permakultuurbeginsels, natuurlik!) Ons praat van ten minste twee kweekhuisgeboue en windturbines en ‘n watertenk en ‘n buitetoilet… (Ek weet nie of ‘n kompostoilet toelaatbaar gaan wees nie, maar dis Koingnaas, en ek is seker ek sal met ‘n paar goed kan wegkom.) Die boutekenaar moet ook vir my ‘n lys optrek van wat ek alles gaan nodig hê, dat ek dit stuk-stuk kan aankoop. Goed soos skakelaars en ligte en kasdeurknoppe en krane…
Die eerste en belangrikste konstruksie is natuurlik ‘n heining en hek om die erf. Ek dink sterk aan lemmetjiesdraadpanele, sodra ek weet wat die omtrek van die erf is! Dit sal dien as “jakkalsproef” en om deurlopers af te skrik. Gelukkig hoef ek net drie kante te laat omhein – die vierde grens aan ‘n erf, met buurman wat reeds ‘n muur opgerig het! Cool! Wat ek nie hardop gaan sê nie, is dat ek die deurlooppaadjie gaan afteken en behou in my terreinplan. Die erf het twee toegangskante, so as ek ‘n hek aan elke kant kan laat installeer en dit as my oprit hou, het ek ‘n natuurlike “maklike pad” oor my erf, wat ek dan net kan plavei. Of iets soortgelyks.
Ek gaan nie stry dat hierdie ‘n merske uitdaging gaan wees nie. Dis emosioneel en geestelik en intellektueel en fisies ‘n hele nuwe leefstyl wat ek nou in my laat middeljare/vroeë oudag wil aandurf. Maar ek glo dis moontlik, met heelwat geloof en werk. En kreatiwiteit. Veral kreatiwiteit.
Die huis gaan ‘n houtraamhuis wees, met NuTec “cladding” binne en buite. Gipsbord gaan nie werk langs die Weskus nie, en veselsement is baie dieselfde tipe produk wat installasie betref. Die plan is om die fondasies en blad te laat giet deur plaaslike bouers, ‘n handlanger of twee te kry vir die mure se oprigting, en dan weer die dak professioneel te laat opsit deur mense wat nie aan hoogtevrees ly nie. Doodgewone sinkdak. Ons is in Afrika. Sal dink hoe en of ek dit gaan laat verf. Weskus word warm.
En dan is daar die kwessie van hoe ek geld gaan verdien. Skryfwerk/Blogwerk/Vlogwerk gaan my brood-en-botter inkomste wees, maar ek wil ook ‘n paar lonende, kreatiewe stokperdjies bedryf. Tuisbedryfgoed, soos in die ou dae, voor fabrieke alles bederf het. Weer eens harde fisiese werk, maar dis ook nodig – skryf is baie passief en om aanmekaar te sit, is nie goed nie. Seep maak en jam kook en piekels inlê en vis en kreef vang(!!!)… Moet net leer ingooi. Laaste ding wat ek gevang het toe ek sélf probeer ingooi het, was ‘n kraaines, en dit nogal met ‘n koffiemeulkatrol! (Ja, ek is uniek!) Sal dalk my broer moet vra om my te leer. Dit gaan sports wees!
My pa het altyd gedreig ek gaan “krepeer van ellende” as ek oor my eie drome en die najaag daarvan praat. Hy het geglo dat ‘n salaris die enigste goeie ding is. Op dié stadium is dit juis die salariswerk wat my siel versmoor, so ek is vas van plan om die volgende paar jaar los te koop en te doen wat my siel laat sing. Meneer Theo Bunge se geskiedenisklas het my op veertien al laat besef dat dit nie min geld is wat die probleem is nie, maar baie skuld. Min geld maak arm. Baie skuld maak dóód! En ek het genoeg besittings – ek hoef nie meer te koop nie.
So nou weet almal waar die proses trek. En Van Niekerk kan nou met hartelus begin Pinterestprentjies bymekaar maak. Dis gratis en dit help dat ek nie moedeloos word nie en dit gee my interessante idees. Dus…
Van môre af kan ek fokus op my skryfwerk. Wil nog steeds van November ‘n skryfmaand maak, al bestaan NaNoWriMo nie meer nie. Minder druk, dink ek, en ek sal sommer vir myself ‘n beloning uitdink. Iets kleins, maar betekenisvol.
Mag dit met jou nooit ophou goed gaan.