Ek het geweet 2026 gaan ‘n wilde jaar wees. En ja, goed tagtig persent daarvan is my eie skuld, met studie, ‘n kort vakansie in die Kaap in (min of meer September), en die beplanning agter my Koingnaas-eiendom.
Maar met die beplannery (daai 100 uur se dink!) het ek besef dat die basiese benodighede van ‘n Koingnaashuis soveel gaan kos as die res daarvan!
Die oprigting van die strukture is die minste van my bekommernis. Dis basies ‘n kwessie van om die regte planke op die regte plekke aan mekaar vas te maak, sodat die vensters en deure pas soos hulle moet! Ek het ‘n relatief goedkoop huisplan in gedagte, maar dis Amerikaans, so ek sal hier en daar ‘n aanpassing moet maak, meestal vir deure en vensters, wat hier in Suid-Afrika volgens millimetermate verkoop word. En dan sal ek in elk geval die ding moet laat oorteken vir die plaaslike burokrate! Net ingeval.
Wat my aan my koffie laat stik het, is die koste van infrastruktuur. Al die pype, draadwerk, meghefters en katoeters om daai huis nou eenmaal van water en ‘lektriek voorsien te kry. En nee, dis nie binne-in die gebou nie. Dis net tot by die huis!
My probleem is dat ek té eko-verandwoordelik probeer wees. Dit gaan nie net vir my oor die “groen” aspek nie, maar ek wil regtig getrou bly aan die beginsel van om te gebruik wat die natuur my bied. Op Koingnaas is dit son, wind en mis! En ek weet as alles net eers ingebou is, sal ek relatief verniet water en elektrisiteit kan opwek. Maar om tot op daai punt te kom gaan nie so relatief verniet wees nie.
So… wat het ek in gedagte?
Koingnaas kry reën in die winter en mis in die somer. Nie so baie soos Kleinsee en Grootmis nie – want die dorpie is 4 Km van die see af – maar genoeg om ‘n verskil te maak. Daar is boorgatwater, maar dis glo redelik tot heeltemal brak. Ek reken as ek ‘n tenk kan laat ingrawe vir daardie miswater (en reënwater in die winter!) kan ek water kry wat nie soveel mineralesoute bevat nie. Die ondergrondse tenk kos egter ‘n jong fortuintjie. Dalk moet ek wag en kyk hoeveel water ek kan genereer voor ek koop. Altyd ‘n goeie idee om klein en goedkoop te begin, en dan op te skaal. Net ingeval.
Wat elektrisiteit betref, wil ek ‘n kombinasie inrig van windturbines en solarpanele. Die windturbines en sonpanele is die goedkoop deel van die stelsel. Dis al die ander onderdele (en die batterye) wat die baie geld gaan kos! Koppelings en kontroles…
Die pluskant sal wees dat ek stabiele elektrisiteit behoort te hê waarmee ek selfs swaar toerusting soos ‘n vriesdroogmasjien sal kan bedryf. (As ek besluit om ‘n klein karretjie se prys vir ‘n vriesdroogmasjien te betaal!) En as ek nie my stelsel aan Eishkom se netwerk koppel nie, hoef ek niks te registreer nie.
So, ja, ek dink oor hierdie dinge. En ek begroot daarvoor, van die heel begin af. Dis makliker om die stelsels van die begin af in te bou as om ‘n bestaande gebou se elektriese stelsels om te skakel. En ek gaan ten minste een watertenk moet koop, met ‘n pompstelsel.
En nou weet ek hoekom huise op Koingnaas so duur is!