My planne is nog steeds in daardie frustrerende houpatroon vasgevang. Dis een stap vorentoe, en dan twee systappe van “goed wat gedoen moet word” voor die volgende vorentoetree gegee kan word.
Wat egter intussen aan die broei is, is heel wonderlik om te beleef. Dis asof elke ding wat ek tot dusver in my lewe aangeleer en ervaar het skielik in hierdie een projek saamsmelt. ‘n Agterplaasboerdery op die haai platteland en ‘n onafhanklike leefstyl volgens Permakultuurbeginsels, terwyl ek my eie huis van die grond af lig en ‘n boot bou… Alles val sommernetso in plek! En met minder moeite as wat ek ooit gedink het dit sou!
Ek het ‘n groot erf opgespoor in ‘n bedenklike toestand, teen ‘n prys wat nie my grys hare sal laat uitval nie. Dis nie in die lokasie nie, so ek gaan dit nie as ‘n belegging beskou nie, maar met bietjie moeite kan ek ‘n paar vrugtebome daar aan die gang kry. Vrugtebome is altyd goed. Dis so drie erwe van ‘n skrootwerf af en skuins oorkant ‘n Evangelies Gereformeerde Kerk, pastorie en al!
Die erf sélf is ook skuinserig, so dit gaan ‘n rol speel in die uitleg van die opset, maar ek glo nie dit sal enigiets te veel opbodder nie.
Die ander positiewe nuus is dat ek ‘n huisplan opgespoor het waarmee ek kan saamleef, op Etsy van alle plekke! En vir minder as R1000! Ek sal nog steeds ‘n plaaslike boutekenaar moet gaan sien vir die terreinplan en die fondasie- en dienstebeplanning (water, ‘lektriek, septiese tenk en so aan!). Munisipaliteite is groot op “amptelike dokumente.”
Ek het besluit op ‘n houthuis. Dis die Suid-Kaap en dis waarmee die meeste mense bou! Die skuurraamwerk behoort ook redelik eenvoudig aanmekaargesit te kan word, al voorsien ek ‘n klompie moeite met die oprigting van die panele. Vir die dak sien ek ook nie kans nie. Dus…
Wat Van Niekerk gedink het, is om die struktuur te laat bou tot op dakhoogte, met al die buitepanele in plek. Die hoë stukke waarvoor ek nie kans sien nie. Dan kan ek my hand waag aan al die afrondingswerk, soos kaste, vensters, binnemure, deure en die plasing van al die elektriese kragpunte, ligte en so aan. Teël en verf, ook! Dis ‘n kompromie tussen “Ek wil self!” en “Ek kan nie hierdie ding doen nie!” en ook ‘n manier om mense te leer ken en nuwe goed te leer. Om mense te ontmoet is altyd belangrik op die platteland.
Die plan het ‘n groot stuk dak met die regte hoek vir Sonpanele. Dit los daai probleem ook sommer van die begin af op, want ek wil 90% van my energie uit volhoubare bronne uit genereer. En daar is nie trappe na die kombuis toe nie! Dis belangrik! (Ek het besluit dat om kruideniersware trap-op te piekel nie meer pret is nie!)
Ek het so twee jaar terug ‘n sielkundige gaan sien. Met al die gesels het sy besef ek ly aan ‘n langdurige toestand van depressie, wat net erger word met angstigheid. (Ja, ek kry angsaanvalle wat my min of meer heeltemal verlam!) Amper soos PTSD, of miskien net so. Besluit nog.
Nee, ek drink nie muti nie. Muti maak dat ek soos ‘n zombie voel, en dis nie my idee van pret nie – ek verkies my gewone mal kreatiewe self, dankie! – maar ek weet ook ek moet ‘n gesonde uitgangsklep vir al my opgekropte emosies kry.
Skryf help, en ek begin stadig maar seker weer lus word vir goed wat ek in die verlede gedoen het voor ek myself vir ‘n voetvel begin uitgee het. Soos borduur en bak en brou en om ‘n lekker lang warm bad te vat met kerse en dik handdoeke.
Soos ek beter voel, ooreet ek myself ook nie aan allerhande gemorskos nie. En my slaapritmes kom ook reg. Dis belangrik.
Die boot sal gebou word. Dis deel van my emmerskoplysbeplanning, en ‘n uitdaging op sy eie. Aan die ander kant is die uitdaging dalk presies wat ek nodig het om nie te gaan lê in selfbejammering nie. Die plan dateer uit die 1970s en tegnologie het intussen baie verbeter. Miskien is dit heeltemal moontlik om Suidsee toe te vaar met ‘n dieselenjin. Teen hoedspoed, natuurlik, en sonder om vir myself allerhande voorspooksels op te jaag.
Wat moet gebeur, sal gebeur.
En een trap vorentoe en twee trappe sywaarts is ‘n wals, is dit nie? Eén-twee-drie, één-twee-drie… Kom ons dans!