Ná maande se gesukkel, het ek uiteindelik ‘n ordentlike rekenaaropset – liggewig, hoogs draagbaar en … weird!
Die boksie pas maklik op ‘n slaaibordjie, maar met genoeg dinkkrag om ‘n groot verskil te maak. En ek het sommer ‘n nuwe skerm ook gekry – net omdat dit meer professioneel lyk. Groot genoeg vir Netflix. Dis belangrik. O ja, en die boksie het blou tande en ingeboude WiFi, so die draadwerk is baie minder. Ja-a, die hardeskyfie is maar klein, maar dis hoekom die Engelse los hardeskywe uitgevind het vir prentjies en só.
Die grootste plus is dat ek nou uiteindelik gemaklik by my lessenaar kan sit en werk, met my bene lekker diep onder die blad in.


Die ander groot nuus is dat ek die afgelope week ‘n aanbod geteken het op ‘n groot erf op Koingnaas. Het lank somme gemaak, gedink en gebid oor dié projek, so dis nie ‘n impulsiewe besluit nie. Ek wag nou in spanning vir die verkoper om sy helfte in te vul en te teken (die aanbod is klaar in beginsel aanvaar) en ‘n akteprokurasie aan te wys dat die geld oorbetaal kan word.
Om die waarheid te sê, is om ‘n Weskuseiendom te besit al meer as 30 jaar lank op my emmerskoplys. Port Nolloth, om presies te wees, maar ek het agtergekom dat die oomblik dat daar ‘n struktuur van enige aard op ‘n Weskuserf is, die eiendom se prys die hoogte inskiet. Dis waarskynlik direk eweredig aan die boukoste, maar ego speel ‘n massiewe rol. Om ‘n vakansiehuis te hê, en so aan.
Dit gaan nie my vakansiehuis wees nie. Ek soek al lank na ‘n “buite” wat my eie is en waar ek kan doen wat ek wil sonder dat ‘n klomp verkrampte “body corporate” ooms vir my vertel wat ek mag en nie mag nie. Die idee is ook dat ek Permakultuurbeginsels op die stukkie grond kan toepas. Dis groot genoeg om ‘n paar eierhoenders op aan te hou, maar nie so groot dat ek myself gaan doodwerk om alles te onderhou nie. Daai is belangrik.
Het klaar uitgewerk dat daar ‘n doringbosding is wat ek as ‘n heiningplant kan gebruik en wat sommer ‘n windbreek ook sal vorm (dis dig genoeg!) aan die Suidekant. Dit beteken ook dat die Noordekant my buite-kuierkant sal wees, veral in die winter. Die Suidekant sal ook die kant wees waar ek plante soos kiwivrugte en “dragon fruit” sal plant, wat droogtebestand is, maar wat skaduwee soek.
MAAR ek sal eers vir ‘n paar maande op die erf moet gaan uitkamp, om letterlik te kyk hoe die wind waai. Safaritent op ‘n houtplatform, met ‘n kompos-buitetoilet. (Gaan in elk geval ‘n kompostoiletstelsel implementeer – daar is vir my niks erger as die idee dat drinkbare water in ‘n droë deel van Suid-Afrika gebruik word vir k…k doeleindes nie!) Wouter se “ablusieblok-“gedagte. Thanks!
Is dit naby die see?
Nie naby genoeg dat alles in die somermaande toe is van die mis nie, en ‘n mens het ‘n permit van die Koingnaas-diamantmyn nodig om by ‘n privaatstrand uit te kom. Dis ‘n koue see, vir kyk en visvang, nie swem nie, so dis nie die soort strand wat toegepak gaan wees van die mensdom op openbare vakansiedae en oor die Feestyd nie. Dis ook ver genoeg uit die algemene beskawing uit dat mense vooraf sal moet reël om te kom kuier. Pas my soos ‘n handskoen. Droë lug laag bo seespieël sal my asem ook help. (Laasgenoemde kommentaar van my huisdokter se kant af!)
En nou vir die groot vraag – hoe gaan ek oorleef?
Met ‘n kombinasie van kreatiwiteit en fisiese moeite. Daar is nie salariswerk op die dorp nie, so wat ek ookal doen sal of selfonderhoudend van aard moet wees, of afstandswerk. Skryfwerk gaan bepaald ‘n rol speel, maar ek het genoeg verbeelding dat ek ‘n reken ek kan ‘n vlog van die proses maak, dit op YouTube pos, en daaruit ‘n klein inkomstetjie genereer. Dit hoef nie baie in Dollar/Euro te wees nie – die simpel wisselkoers tel in my guns. Daar is ‘n klein toerismepotensiaal oor blommetyd, maar dis so miniskuul dat ek dit nie sterk oorweeg nie.
Ek het klaar besluit dat ek nie gaan krepeer nie. Ek het oor die jare baie geld ekstra tot ‘n aftreefonds bygedra, maar ek gaan my bes probeer om nie onnodig daaruit geld te trek nie. Kos kan ingevoer word uit die metropool van Springbok, of self gekweek word. Het klaar planne vir twee kweekhuise vir groente. Vrugte sal kom van bome, struike en rankplante wat ek in die tuin kan plant. Bybelse vrugte. Druiwe, vye, olywe, karobpeule, granate, suurlemoene en ander sitrusbome, aarbeie, wilde komkommers… Sal kyk wat doen die Israelis. Boere en Jode dink nogal baie dieselfde. En hulle tegnologie is gerat om waterskaarste die hoof te bied. Die dorpie het ‘n padstal/tuisnywerheid tipe winkeltjie, wat baie moontlikhede bied. Maar wat ek ookal kweek en inmaak sal oorwegend vir eie gebruik wees.
Ernstig nou, die platteland is besig om radikaal te ontvolk, met al die jongmense wat stad toe vlug en plaaslike groot werkverskaffers wat stelselmatig hulle deure sluit. Dis dalk ‘n artikelreeks werd. En mens kan dalk ook iets maak van al die skeepswrakke. Sal bietjie dink.
My tydlyn
Die manier waarop die finansiering gestruktureer is, beteken dat ek nie oorhaastig my woonstel in die mark hoef te sit nie. Die nuwe paaiement is ook nie veel meer was wat ek reeds betaal het nie (ek het ekstra betaal – en dis deels waaruit die finansiering getrek is!), en oor net 68 maande, so dit behoort relatief vinnig afbetaal te wees, as ek weer eens moeite doen om bietjie ekstra in die rekening in te pomp soos wat ek geld het. Maar ek is nogal haastig om hier weg te kom, so daar is ‘n moontlikheid dat ek die skuif aan myself gaan present gee vir my 50ste verjaardag. Moet net eers ‘n goeie finansiële kussing onder my bodem hê om seker te maak ek sukkel nie te veel nie. Betroubare vervoer is nie onderhandelbaar nie, omdat ek groot afstande sal moet aflê vir besigheids- en inkopiedoeleindes. DIS dalk iets waarvoor ek in my aftreefonds sal grawe: ‘n Suzuki Jimny vir die moeilike paaie.
Ek het klaar ‘n bouplan in gedagte – ‘n houtraamhuis op ‘n sementblad. Sal kontrakteurs inkry vir die goed waarvoor ek nie lus is nie, soos die betonwerk en die dakkonstruksie (ek is bang vir hoogtes!) en dan ook die tegniese aspekte soos die elektriese konneksies waarvoor amptelike papierwerk geteken moet word. Ek sien kans vir die houtraamwerk van die buite- en binnemure en vir al die houtwerk IN die huis, soos kaste en só. Ek het nie net één YouTube-video oor die onderwerp gekyk nie 😉 en houtwerk is vir my lekker. Ek sal net formeel die Huisbouersvereniging se eksamens moet aflê, beide die standaardweergawe en die een vir houtraamhuise.
Gelukkig of ongelukkig is die erf in ‘n dorpsgebied en kan ek nie eksperimenteer met allerhande volksvreemde boumetodes nie, maar ek kan my bes probeer om dit wat ek wel gebruik, so eko-verantwoordelik as moontlik te doen, met vertikale-as windturbines as rugsteun vir die Eskomkrag (baie son en wind, maar ek het reeds genoem van die hoogtevrees, so windturbines is makliker vir dieselfde uitset!) En ek gaan nie miljoene moeite doen agter ‘n grasperk aan nie. Vygies, duwweltjies en madeliefies lyk in elk geval vir my mooier, en ek dink aan cool trapklippe om van een deel van die tuin na die ander te kom. Iets kreatiefs wat ek self kan maak. Dis vir my baie belangriker – want miskien sien iemand dit raak en kan dit ‘n tuisbedryf raak! Ja, ‘n Internet-tuisbedryf!
Maar nou gaan ek eers die katte versorg. Hulle is belangrik.
Tot later!