Permaculture is sedition. It’s a peaceful sedition, but it’s sedition nonetheless. – David Holmgren
Vandag gaan ek verder met die beginsels van Permakultuur, volgens David Holmgren se leerstellings.
Nou dat die spanning van huis koop so te sê agter die rug is (dit wat nog moet gebeur, is buite my beheer, so ek gaan nie dat dit my omkrap nie!), kan ek begin dink aan hoe om my erf só in te rig om die beste te maak van dit wat die Voorsienigheid verskaf. Dit begin by ‘n kompostoiletstelsel en eindig by twee vertikale-as windturbines by die Suidkantse heining met misvangers en ‘n hele erf vol wateropgaarstelsels tussenin.
Daar is nie ‘n skaarste aan sonlig en wind in Suid-Afrika nie. En – vir ‘n waterskaars land – kry ons ook nogal heelwat reën. Die vraag is – vang ons daardie gratis hulpbronne vas vir latere gebruik, of laat ons dit net bloot wegloop?
Sonpanele, windturbines en selfs batterye het die afgelope paar jaar baie goedkoper geword. ‘n Opset wat tien jaar terug peperduur was, is nou die helfte goedkoper. En ‘n mens kan deesdae so te sê jou hele huis bedryf sonder om ingeprop te wees by Eishkom. (Die warm water kan ook op ‘n baie goedkoop manier gegenereer word!) En reënwater kan nie net in opgaartenks gestoor word nie, maar die vloei daarvan kan deur die oordeelkundige toepassing van grondwerke op jou erf só vertraag word, dat dit eerder insink as wegloop. En daai kos maar net werk, nie geld nie. Dieselfde geld vir “gryswater” uit storte, wasbakke en wasmasjiene. (Skottelgoedwater is tegnies rioolwater, maar daar is maniere om dit ook bruikbaar te maak!)
Koingnaas is nie téén die Weskus nie, en kry nie soveel mis soos byvoorbeeld Port Nolloth, Kleinsee en Grootmis(!) nie, maar ek reken daar behoort genoeg mis in die somersoggende te wees dat ek ‘n paar liter water daaruit kan oes vir my groente. Ek leen die idee by die Chileense regering wat skadunette in die Atacamawoestyn gespan het om mis op te vang en water te genereer vir die kusgemenskappe. Mis is verniet. En om dit te gebruik, is verantwoordelik.
Die ander soort mis is ook ‘n hulpbron wat heel doeltreffend ingespan kan word in ‘n Permakultuurtuin. Daar bestaan reeds heelwat hulpbronne oor hoe om mens- en diermis verantwoordelik te komposteer sodat dit as bemesting by vrugtebome gebruik kan word. Nee, ek dink nie daaraan as ‘n bemestingsbron vir my groentetuin nie. Nie omdat ek nie kán nie, maar sommige gedagtes vat lank om te verander.
Die standaardmetode in Suid-Afrika om water op te gaar is deur middel van watertenks. Ek gaan dit beslis ook doen, maar waarin ek baie belangstel is die grawe van “swales.” ‘n “Swale” in hierdie geval is ‘n sloot wat volgens ‘n bepaalde kontoerlyn gegrawe word om reënwater vas te vang en dan baie stadig in die grond in te laat loop,om so die grondwaterreserwes van daardie stuk aarde aan te vul vir bome en struike wat dan weer op hulle beurt die grond verryk deur blare en takkies wat val, en voëls en ander dierasies te lok wat die plek bemes. Uiteindelik kan selfs ‘n stuk woestyn langs die Dooie See ‘n goeie opbrengs lewer.
Sonder om politiek by te sleep, het ek nog al die jare groot respek vir die Israelis. Dis ‘n klein landjie met min tot geen natuurlike waterbronne en skrapse reënval, maar deur slim te werk het die boere daar ‘n stelsel ontwikkel wat Israel ‘n groot uitvoerland van landbouprodukte maak. Deur net ‘n breukdeel van daardie denkwyse toe te pas (ek dink nou hier aan drupbesproeiing vir my doringheining en vrugteboord) kan ek ook uit hulle ondernemingsgees voordeel trek. ‘n Mens hoef nie te sukkel as oplossings reeds bestaan nie.
Maar soms moet jy net bietjie dink.