Ek het ‘n ruk gelede ‘n bydrae gepubliseer oor die etiek van Permakultuur. Vandag wil ek begin met die beginsels waarvolgens Permakultuur toegepas word.
Daar is twaalf beginsels. Hulle is nie rigiede wette nie, maar eerder riglyne wat verder strek as bloot net ‘n agterplaasgroentetuin, en deur hulle toe te pas, word ‘n omgewing geskep wat sáám met die natuur vloei, en nie daarteen skop nie.
Die eerste beginsel van Permakultuur is om waar te neem en deel te neem. (“Observe and take part.”)
Die gedagte hieragter is dat ‘n mens ‘n jaar lank met jou grond saamleef, deur al vier die seisoene, en letterlik kyk hoe die wind waai voordat jy op groot skaal begin breek en bou en verander. Só kry jy dan ‘n goeie idee van hoe jou omgewing daar uitsien en kan jy die regte aanpassings maak en omgewingsverantwoordelike strukture oprig wat jouself, jou mense en die omgewing sal bevoordeel.
Natuurlik is ons deesdae baie haastiger, en windkaarte, sonkaarte, en Google Earth is baie gerieflik, maar niks klop ‘n geselsie oor koffie met die buur-omie om uit te vind uit watter rigting die reën kom en hoe warm en koud dit word nie. Soms het daardie buur-omie ook ‘n staaltjie te vertel oor die swaeltjies wat onder jou garage se dak ‘n nes het en wat elke jaar terugkom om ‘n vars broeisel kleintjies groot te maak, of hy het dalk ‘n raat vir kokkerotte wat nie die hele omgewing sal vergewe nie. En miskien bring die buurtannie ‘n paar koeksisters ook uit stoep toe, vir die soetigheid.
Die voordeel van om ‘n hele jaar net te kyk, is dat jy seisoensgebonde probleme raaksien. Daar is dalk ‘n plek in jou tuin waar die water ná elke storm opdam, of jy kom agter dat die hele straat se stormwater om een of ander simpel rede deur jou erf loop. En jy kom agter waar jou erf sonkolle het, en waar die donkerste skaduwees heeljaardeur rondhang.
Maar nou het ek nie ‘n erf nie, en ek wil ‘n boot hê. So hoe pas ek dié beginsel toe?
Vir my word hierdie wagtydperk letterlik ‘n jaar van “die kat uit die boom uitkyk.” Ek weet wat die eindresultaat is wat ek wil hê, en wat die doeldatum vir die projek is (7 November 2026). Intussen kan ek myself voorberei, toepaslike kursusse loop, met kenners gesels, miljoene YouTube-bootbouvideos kyk, oefen met kleiner stukkies spons en veselglas en goed koop wat ek weet ek nodig gaan kry. Ek kan ook uitwerk WAAR ek wil gaan werk, hoe ek gaan bly terwyl die boot gebou word en of daar werklik ‘n mark is vir videos van ‘n vrou in haar middeljare wat ‘n projek aanpak waarvoor die meeste “normale” mense nie kans sien nie. Só mors ek nie tyd en energie op iets wat nie gaan werk nie.
Permakultuurpraktisyns is lui mense. Dis hoekom hulle Permakultuurpraktisyns IS. Die hele idee agter Permakultuur is om iets een keer ordentlik te doen, op so ‘n manier dat die “iets” homself kan onderhou, sonder om die omgewing onderstebo te draai. Dis ‘n leefstyl wat beplan word om koste-per-keer, om so plaaslik as moontlik voorrade in te samel, en om so min as moontlik te werk en nog steeds ‘n goeie oes te in. Dit beteken nie dat ons GLAD NIE werk nie. Net dat ons bereid is om een keer baie hard te werk en dan daarna vir jare die vrugte van ons arbeid wil pluk, met net hier en daar bietjie regsnoeiwerk en kompos optop.
Dis dus vir ons voordelig om ordentlik te beplan aan alles wat ons wil doen, sodat ons nie onnodig energie spandeer wat eerder in ‘n ander rigting gekanaliseer kon word vir ‘n beter opbrengs nie.