Tegnies gesproke…
Tegnies gesproke…

Tegnies gesproke…

Daar prut op die oomblik ‘n pot sop op my stoof. Dit het al die regte bestanddele in vir Borshch… maar Van Niekerk het ‘n klomp gemengde Italiaanse kruie ingegooi vir die laaste halfuur of so. So dis iewers tussen Kyiv en Rome… (Ek besluit nog!) En tussen die hoeveelheid sout wat ek ingegooi het, en die beesvet wat bo-op die sop lê, sal ek nie verbaas wees as dit die tipe dis is waarmee die Oos-Europese tannies van ouds hulle mans doodgekook het nie. Sê maar net!

Those who say it can’t be done are usually interrupted by others doing it. — James Baldwin

Ek het vroeër vanaand na ‘n paar YouTube videos gekyk, want ek wou kyk hoe die handlyne werk waarmee hulle op die oop see visvang. Die enigste ding wat ek nog ooit met ‘n katrol en stok gevang het (toe ek self probeer ingooi het!) was ‘n kraaines. En dit was met ‘n koffiemeulkatrol, so dit maak my uniek.

Een van die videos was van ‘n man, sy vrou en twee kinders onder vyf wat op daardie stadium al agt jaar lank op see was, besig om met ‘n seiljag om die wêreld te vaar. Hulle “eerste omvaart,” wat al so te sê voltooid was. Ek het ook gelees van ‘n oom en tannie in hulle sewentigs, wat op vyf en sestig jaar ‘n seilboot gekoop het “want ons word nie jonger nie.”

Wat my nog altyd gekeer het van alles wat ek wou aanpak is ‘n heilige vrees vir “wat gaan die mense sê?” Dis ‘n natuurlike uitvloeisel van die “ek skaam my dood!” wat ek as kind moes aanhoor elke keer as ek iets gedoen het wat nie volgens die oorgelewerde gebruike van die voorgeslagte was nie. Teen die tyd dat ek al die detail uitgewerk het en reg was om my idee voor te lê, het ek myself al so wysgemaak dat die gedagte simpel is en dat (a) niemand my sal ondersteun nie, en (b) almal vir my gaan lag, of dink ek is stapelgek, dat ek absoluut geen entoesiasme gehad het vir my idee nie.

Maar dit moet verander, want ek is besig om te versmoor, en ander mense se opinies gaan nie my omstandighede verander nie. Dis iets waaraan ek self moet werk.

Tot dusver het ek al ‘n boot of ses in gedagte wat ek in die see kan invat, ek weet watter kursusse om te loop wat my sal kwalifiseer om die seereise te onderneem wat ek graag wil en daar is heelwat wat ek kan doen om vir myself ‘n tweede loopbaan op see te bou, met ‘n redelik goeie maandelikse inkomste, as ek die saak reg benader. Ek het ook ‘n goeie idee wat hierdie uitstappie my gaan kos en ek verwag geen finansiële te ondersteuning van buite af nie. Aan die ander kant gaan niemand ook enige aanspraak kan maak op my sukses nie. Dit pas my soos die spreekwoordelike handskoen.

Vanaand het ek opnuut besef dat daar dalk ‘n Plan was daarmee om my enkellopend en kinderloos te hou. Ek weet nie of ek hierdie tipe projek sou kon aanpak met ‘n man en ‘n handvol kinders aan my rokspante vas nie. Suid-Afrikaanse mans is daarby ook buitengewoon dominerend. Op my eie is beter. Baie beter.

Wanneer ek my doelwitte neerskryf, het ek gewoonlik ‘n hele paar bladsye met twee kolomme: “Struikelblokke en Strategieë”. Die “Struikelblokke” kolom is al die probleme wat reeds bestaan en wat ek voorsien en goed wat my oor die algemeen kan keer om die doelwit te bereik. ‘n Goeie aantal van daardie “struikelblokke” is opinies van ander mense. Die “Strategieë” kolom is presies wat dit sê. Dis ‘n antwoord/oplossing vir al die probleme wat moontlik miskien kan ontstaan, en sommer antwoorde op ander mense se opinies ook! Want as mense nie meer ‘n sê het oor wat ek wil doen nie, is daar bitter min wat my kan keer. Dit was lekker om vandag ‘n antwoord te kon gee vir iemand wat wou weet of ek dan enige seiljagvaartagtergrond het. Nee, maar daar bestaan seevaartkursusse, en ek het besluit ek gaan eerder ‘n motorjag aanskaf, want ek wil myself nie aan die takelwerk vasknoop nie. Dis iets waaroor ek reeds gedink het, en ek kon vinnig reageer. Dis belangrik. Boelies pik op mens as jy lyk of jy halfpad onseker is oor ‘n saak. En ek het ongelukkig baie hiperkritiese mense in my lewe.

Van buite af gesien, lyk dit of hierdie projek heeltemal stilstaan. Ek gee nie geld uit hierop nie, ek tref nie allerhande reëlings nie en dit gaan beslis nie lyk of ek enige kursusse bywoon nie. Ek weet egter dat sodra die plan begin beweeg, dit blitsvinnig heelwat momentum sal kry. Die grootste onsekerheid wat ek voorsien, is die verkoop van my eiendom. Die woonstel kan binne ‘n week verkoop, of dit kan ‘n jaar vat voor ‘n koper ‘n aanbod maak. Dit beteken dat ek vooraf ‘n gebeurlikheidsplan moet maak: wat gaan ek maak as die plek vinnig verkoop? En wat gaan ek maak as dit nié verkoop nie?

Ek moet ook voorbereidings tref vir ‘n reis Europa toe om ‘n geskikte vaartuig te gaan soek. Geen datum nie, want ek weet nog nie wanneer nie, maar ek moet solank weet hoe om my visumaansoek te bewoord, veral omdat ek nie noodwendig gaan terugVLIEG nie. Ek moet ook weet waar ek die bote gaan soek en hoeveel tyd ek myself gaan gun om die regte een te kry, inspeksies en papierwerk in ag genome.

Dus…

Daar is ‘n enorme hoeveelheid werk wat gedoen moet word voordat ek soos ‘n wafferse cowboy die sonsondergang kan invaar, met ‘n indrukwekkende aantal gebroke harte en lyke in my kielwater. Ek kan egter nie aan enigiets dink wat meer bevredigend sal wees as om iewers in die vreemde wakker te word en met ‘n beker koffie in die hand die blou water om my te betrag nie.

Dis egter een van daai dinge wat net die tyd sal leer.

One comment

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui