Om goed genoeg te wees
Om goed genoeg te wees

Om goed genoeg te wees

(Growwe taal-waarskuwing: vandag se stuk is nie mooi nie. Want soms in jou lewe het beskaafdheid nie ‘n plek nie.)

Ek het vandag die fout gemaak om my droom met my broer te deel. En net daar is alles in sy hêppie kanon in! Want daar is ‘n verdomde pikkewyn om my skouer wat my een ding gesê het… en miskien is hy reg:

Jy is nie goed genoeg nie, en jy verdien nie mooi goed nie. En jy is te ambisieus en wie sê jy gaan suksesvol wees? Jy sal nooit kan [watookal prestasie] nie.

Dis alles dinge wat gesagsfigure in die verlede vir en van my gesê het. En ek is amper vyftig jaar oud en dit steek nog steeds in my kop vas soos ‘n bliksemse grammofoonplaat. En dit vat nie veel om daai plaat te laat draai nie. Een opmerking. Eén sinsnede: “Dink jy nie jy moet eers met iets kleins begin nie?” Eintlik onskuldig gesê en goed bedoel. Maar elke ou wond is nou weer oop. En almal van hulle bloei.

Wel, hierdie saak kan nou twee kante toe gaan. Ek kan vir die volgende dertig minute gefokusde selfbejammering toepas en dan diep asemhaal en besluit om in elk geval hierdie ding te doen en te hel met die gevolge en almal wat reken ek is nie goed genoeg nie. (Ek sluit myself hierby in!) Baie mense om verkeerd te bewys. Opinies betaal nie skuld nie. En al daai.

Of ek kan hier opstaan en al my harde werk van die afgelope vyf maande in ‘n blik druk, besluit die pikkewyn was reg en net doodeenvoudig nooit weer iets doen wat teen die bepalings van ‘n geordende samelewing indruis nie. In Afrikaans gestel, ek kan gemaklik op my gat sit en krepeer. Werk, huis, af en toe Ma, werk, huis… klink min of meer reg. Want ek was vermetel genoeg om te dink ek kan iets doen wat my uniek maak. Of miskien selfs net interessant. Ek bedoel: wie sê ek kan ‘n seiljag bou, die proses blogstaaf en miskien ‘n paar sent daaruit verdien? Hmmm? Wie sê…?

En nou dat my halfuur van gefokusde selfbejammering verby is, het ek ‘n besluit geneem…

Ek verstaan dat daar mense is wat lief is vir my en my teen alles wil beskerm, maar ek weet ook dat as ek nie hierdie mal projek aanpak en deurvoer nie, ek nooit weer die lus sal hê of geleentheid sal kry nie. Ja, ek kan moontlik alles verloor wat ek het, en dit sal uiters jammer wees, maar ek het genoeg vertroue in my om te weet dat ek nie van ellende sal krepeer nie. Dit sál uitwerk want dit móét.

Laasjaar dié tyd was ek in Kyiv. Dis ook iets wat ek nooit gedink het ek sal deurvoer nie, veral nie toe ek so lekker bedrieg is met my een stel vliegkaartjies nie. En daar was ook heelwat mense wat gedink het my bont varkie het verkas, maar om een of ander rede het ek my nie aan hulle gesteur nie. Daar is geen rede hoekom hierdie doelwit anders benader moet word nie.

Die hele gedagte van “begin net eers klein” is nie hier van toepassing nie. Daar is nie ‘n “net klein” aan hierdie projek verbonde nie. Ek wil nie speelgoedbootjies bou nie. Ja, ek verstaan dat veselglas nie ‘n maklike medium is om mee te werk nie, en dat die grootste deel van die projek gewy gaan word aan afskuurwerk. Ek weet dat ‘n veiligheidsbril en respirator albei krities belangrike gereedskap gaan wees. En ek weet dat as ek eers op die water is, dit gaan wees waar ek gaan bly, so ek gaan aan elke moontlike en onwaarskynlike veiligheidsmaatreël aan boord aandag gee. Al die nodige veiligheidsaspekte aan boord sal aangespreek word. En die toerusting wat ek gaan gebruik om my lewe makliker te maak, gaan katoeters wees wat heel netjies in my woonstel sou kon pas, maar net kleiner en meer energiedoeltreffend.

En my plek gaan MYNE wees. MY energie, my drome, my sweet en miskien selfs my bloed. Ek is nie dom of naïef om te dink dit gaan maklik wees nie – dis kláár nie maklik nie! – en ek het regtig nie ‘n idee hoe ek oor en deur party aspekte van hierdie bouwerk gaan kom nie, maar ek gaan nie die bobbejaan agter die bult haal nie. Elke dag sy eie drama. En vir daardie drama is ek meer as genoeg.

Positiewe nuus:

Ek het verlede week ‘n e-pos gestuur aan die mense by Glen-L Marine Designs, die maatskappy by wie ek my bouplanne wil koop, om te vra of hulle nie die bestudeerplan(ne) vir die spesifieke model seilboot waarin ek belangstel as ‘n PDF-weergawe het nie. (Hulle het ‘n papierweergawe beskikbaar, maar die verskepingskoste hierheen is meer as sesdubbeld wat die plan sélf kos!) Vrydag kry ek die PDF in my in-mandjie, gratis en verniet, saam met ‘n nederige verskoning. Die maatskappy bestaan sedert die 1950s en hulle het nog nie al die planne gedigitiseer nie. Baie dankie, Josh!

Hoekom ek hierdie spesifieke maatskappy gekies het?

Soos ek gesê het, hulle bestaan al sedert die 1950s – 1953, om presies te wees – en enige maatskappy wat 60 jaar oud is moet iets weet van bootplanne en amateur-bootbouers se behoeftes. Die planne wat hulle verkoop is nie net stukke papier nie, maar hulle gee ook handleidings saam, en hulle is baie goed met raad gee. Wat hulle ook doen, is om gedrukte patroondele saam te gee, wat ‘n mens dan net so op jou laaghoutvelle kan oordra (met groot stukke deurslagpapier) en uitsny. Dit skakel 90% van die meet-en-pas werk uit en maak die proses baie vinniger en makliker. Omdat ek met isolasiespons gaan werk (baie lang woord wat ek nie nou vinnig kan onthou nie), gaan die proses heelwat vinniger wees as die “gewone” laaghout-en-veselglas metode, en ook heelwat minder lektriek!

Ek het ook klaar ‘n rowwe aanduiding gekry van die boukoste van die romp – dis báie goedkoper as wat ek aanvanklik gedink het – met boumateriaal wat alles hier plaaslik beskikbaar is. Dis die ander deel van die bouwerk waarvan ek hou: geen van die boumateriaal is “volksvreemd” nie. Tot dusver is die enigste goed wat ek sélf uit die buiteland sal moet invoer die elektriese motor (en sy kontroles) en die 3 ton ysterstukkies (pop-outs) vir die ballasvin, wat onderskeidelik uit Finland en Nederland moet kom. Dit beteken ook dat ek nie aan SARS en die Reserwebank sal hoef te “plies eksplein” hoekom ek so baie geld land-uit stuur nie! Pas my. Ek het genoeg van regerings en hulle drama gehad.

Die kraggereedskap en veiligheidstoerusting sal ek ook plaaslik aankoop. Bietjie-bietjie, want as ek alles een slag moet koop, gaan ek huil! Maar ek wil nie sukkel as alles eers in plek is nie. Dan moet die besigheid loop!

Ek het weer gedink oor dié saak. Ek IS goed genoeg. Ek is handig, ek is intelligent en wat ek nie weet nie, is ek bereid om te leer! Ek weet wat my beperkinge is – fisies en anders – en ek kan nie sien hoe hierdie projek moeiliker gaan wees as wat ek sal kan baasraak as ek die aanwysings noukeurig volg, met ‘n plan werk en elke dag ‘n stuk arbeid insit nie. Letterlik een stukkie op ‘n slag, stelselmatig, en as ek ‘n paar harde ure tussenin moet insit om die veselglaslae binne ‘n bepaalde tyd geplak te kry, dan doen ek dit só!

Ek. Is. Genoeg!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui