En so draai die wiel
En so draai die wiel

En so draai die wiel

Toe ek begin dink het daaraan om ‘n boot te kry en doodeenvoudig net weg te vaar, was my hoofgedagte om ‘n plan te koop, ‘n werkspasie te huur en die boot self te bou. Dit sou vir my die ideale YouTube-materiaal gewees het – bou ‘n boot, rus dit toe volgens al die nodige regulasies en vaar daarmee die hele wye wêreld in!

Intussen het ek egter die plan gekry om die boot klaar te koop, en maar net reg te maak wat reg te make is. Maar die klaar bote wat in my bekostigbaarheidsklas val, is gáár! EN ek het my kop ook geskuif van ‘n motorboot af na ‘n gemotoriseerde seiljag toe.

Nou het ek teruggekeer na my oorspronklike idee toe: koop die bouplan, bou die boot en dokumenteer alles van die begin af! Dit gee my ook die kans om meer geld te verdien en opsy te sit vir die elektriese enjin wat ek wil laat installeer, en ek kan die boot inrig volgens my eie smaak en gerief. Luuks, óók, waar ek dit kan bekostig. (Dit gaan my huis wees!)

Parkinson se Wet sê dat enige taak so lank sal duur as wat die tyd is wat daarvoor opsygesit is. Dis een van die hooffunksies van projekbestuur – om die regte hoeveelheid tyd en ander hulpbronne beskikbaar te stel sodat ‘n gegewe taak sonder drama sal klaarkom. Mense word baie betaal om hierdie tipe somme te doen.

Ek weet net dat daar nog 585 dae oor is voor my halfeeuviering, die finale teikendatum wat ek vir myself gestel het om hierdie radikale skuif te maak. In daardie 585 dae moet ek my werk bedank, my woonstel smous, ‘n geskikte werkspasie kry en die boot 95% klaar gebou kry. O ja, en al die nodige kursusse loop wat nodig is om te weet hoe om die gegewe boot reg te hanteer. Dis 18 maande. Maar 18 maande is nie ‘n lang tyd nie. Nie eens op ‘n Maandag nie.

My vraag is nou net dít: moet ek die 7de November 2026 my finale teikendatum maak vir in die see invaar, of moet ek dit die datum maak waarop ek my bedanking indien en die hele proses van boot bou aan die gang sit?

En waar bou ek die boot? Ek sal moet uitvind of daar enige skeepswerwe in die Kaap is waar ek self aan die boot kan bou. Anders gaan ek met my vinger in my… oor… sit, want amper al die verskaffers is in die Kaap.

Later…

‘n Aanlynsoektog en ‘n WhatsApp later, en ek het afgekom op ‘n werkswinkel aan die rand van Mosselbaai! Glad nie duur nie! Die idee het nou vorm – kry alles in plek so gou as wat ek kan, en begin die bouproses. Ons praat van ure se skuurwerk op ‘n goeie dag, maar ek dink dit gaan baie terapeuties wees. En ek voorsien “af dae” waar ek bietjie toeris kan speel in die omgewing, met mooi videoskote vir my YouTube-kanaal. Die héél oorspronklike plan van om die boot in Mosselbaai te registreer is ook weer in plek. Daar is metode in daardie waansin – om die boot geregistreer te kry aan die Suidpunt van Afrika!

My ma sê altyd dinge val in plek soos hulle moet. Ek skud net soms my kop in verwondering.

Ek het vandag geweldig baie dinktyd gehad. Té veel. Nie net oor my drome en wat ek alles DV vir die toekoms beplan nie, maar ook oor wat ek nié wil hê nie. Die tweede lys is dubbeld so lank soos die eerste.

Ek kies om hierdie mal perd op te saal, en ‘n ding aan te pak wat só groot en skrikwekkend is dat my naam in die annale opgeteken sal word as die “mal tante.” Ek pak dié projek aan soos wat ek my uitstappie Oekraïene toe aangepak het. Stap vir stap, stelselmatig en metodies. Soos ek vroeër gesê het: 19 maande is nie lank nie. En of ek vir die volgende 585 dae gaan sit en tone tel en of ek al die nodige boublokke en vaardighede gaan bymekaarstapel, die tyd gaan in elk geval verbygaan.

Ek teken natuurlik ook al my gedagtes in ‘n notaboek aan. Ek het baie notaboeke, want ek kan nie die versoeking weerstaan om een te koop as ek ‘n mooi notaboek sien nie. Dit help om my kop bymekaar te hou, want my gedagtes is soos ‘n kat met “zoomies.”

My April het struktuur en ‘n lang doenlys. Dis goed. Om ‘n vaste mikpunt te hê en aktief in daardie rigting te beweeg help om die angstigheid weg te hou, al is dit net tydelik. Ek wil nie tyd spandeer daaraan om depressief en gespanne te wees nie – dis energie wat ek nie kan bekostig om te vermors nie. Kreatiewe aktiwiteite soos skryf en handwerk en doen en maak help om daardie spanning te onderdruk. En nee, dis nie ‘n nuwe ding nie. Net nie iets wat ek altyd deel nie.

Ek wil stelselmatig my leefstyl verander van ‘n salaristrekker na ‘n kreatiewe skepper toe. Weer eens is dit nie ‘n oornagproses nie, en dit gaan ‘n geweldige groot kopskuif vereis. Dis ‘n geval van prioriteite en harde, harde werk wat nie noodwendig dadelik resultate sal lewer nie. Ek sal my gemakborrel moet rek en skud totdat dit strek tot waar ek wil wees. Een artikel, een foto/video, een getikte bladsy op ‘n slag.

Die goeie nuus is dat ek nie bang is om te leer nie. Einstein het daardie tyd gesê dat intelligensie nie is om al die kennis in pag te hê nie, maar om te weet waar om die inligting te kry wat jy benodig. Ek is vas van plan om ‘n hele paar kursusse oor verskeie onderwerpe te loop, wat beide my seevaartloopbaan en my loopbaan as kreatiewe skepper sal bevoordeel, maar ek versamel ook name en inligtingsbronne, sodat ek van ander mense se kennis en ondervinding gebruik kan maak.

Dis hoe dit moet wees. En só draai die wiel, en val al die legkaartstukke in plek.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui