Ek moet my mense beter kies.
Nee, nie omdat hulle goor, nare, onnosel mense is nie. Inteendeel. Die mense in my lewe is meestal baie gaaf en skerp. Maar omdat hulle skerp is, vra hulle vrae. En omdat hulle vrae vra, moet ek dink. En sodra ek dink, kom ek agter daar is ‘n beter idee wat ek kan implementeer. En dan verander die plan heeltemal!
Ek het die hele elektriese motor-idee laat vaar. Dis geweldig duur en glad nie koste-effektief nie. Ek wil nie “cheap” bou ten koste van veiligheid nie, maar daar is beter en goedkoper maniere. Wat ek wil doen, is om ‘n klein dieselenjintjie te laat inbou. Deesdae se dieselenjins in geweldig brandstofdoeltreffend en kragtig en ‘n mens hoef nie iets massiefs te hê vir die hoeveelheid aandrywing wat ek op die boot nodig het nie. Dis ook ‘n 90% kostebesparing!
Wat ek ook kan doen, is om ‘n stel 12V-“huisbatterye” in parallel te installeer waarmee ek die boot se elektriese en elektroniese toerusting kan aandryf. Daar sal dus twee elektriese stelsels wees – een vir die aandrywing en boot-elektronika – en een vir my gemak! Ek kan hulle altyd op ‘n manier met mekaar in verband bring, so niks is ‘n ramp nie. Net goedkoper.
Ek reken die meeste besluite rakende die aard van die boot is nou geneem, en daardie aspek van die bouwerk kan nou te ruste gelê word. Ek het Wouter se raad ter harte geneem, en ‘n Excel-spreitabel opgestel van wat wanneer waar en deur wie moet gebeur. Parkinson se wet is ‘n werklikheid, en my teikendatum is nie onderhandelbaar nie. Wel, MEESTAL nie!
Nou wat nou?
Ek het die saak uit alle moontlike aspekte uit beskou, en daar is nie ‘n manier waarop ek my huidige omstandighede kan behou terwyl ek die boot bou nie. Daar is nie ‘n lewensmaat in die prentjie waarop ek kan reken om die pot aan die kook te hou nie. Wat ek dus moet uitwerk is hoe om die proses te moneteer, sodat ek nog steeds geld kan verdien en myself aan die lewe hou terwyl ek met hierdie projek besig is.
Daarby moet die inkomste semi-passief wees. En dit moet ordentlik gedoen word. Een keer en kláár, volgens Permakultuurfilosofie.
Wat ek gereken het, is om ‘n vlog op YouTube te skep om my vordering te dokumenteer, en dan ook ‘n Patreonblad vir donasies en só. (Sal nog sien oor laasgenoemde – ek weet nie of die idee van ‘n bedelbakkie baie gepas is nie!)
So my volgende paar weke gaan daaraan gewy word om te leer hoe om goeie videos te maak, met my wat voor die kamera staan en praat en verduidelik! Daar is gratis kursusse wat ‘n mens kan loop wat jou stap vir stap deur die proses vat. Een van daardie kursuswebwerwe is Alison.com. Die kursusse is verniet of baie goedkoop en die webwerf word bedryf in vennootskap met Linked-in, wat beteken dat daardie kortkursse deel kan vorm van ‘n mens se CV. Dis ideaal vir mense wat hulleself relevant wil hou in die werksplek, of wat – soos ek – ‘n loopbaanskuif oorweeg!
My grootste vrees is om met ‘n kamera te gesels. Daarby is ek nie baie mal oor opnames van my eie stem nie. Dit klink vreemd en oordrewe asemrig. Ja, ek weet laasgenoemde het per ongeluk gebeur, maar dit is een van die min dinge waaroor ek geweldig selfbewus is. Ek troos myself dat al die YouTube en TedX sprekers ook eens was waar ek nou is, voor hulle baie goed geword het. So ja, ek gaan leer. Elke dag 30 minute se monoloog, met ‘n draaiboek voor my, tot ek selfvertroue het en minder uhm en ahh. En as die bouwerk dan afskop, kan ek my eie stemwerk doen. AI is uitstekend as ‘n mens iemand aan die slaap wil sus, en ek wil outentiek wees met wat ek doen. Dus…
Ek het ook al presies uitgewerk hoe groot my aanlyninkomste sal moet wees om my basiese maandelikse uitgawes te dek, tydens die bouproses, maar ook terwyl ek op see is. Dis meestal versekering en ledegeld, maar ook maandelikse intekenfooie op verskeie dienste. Nie goed wat gemiddelde mense op inteken nie – meestal joernale en skryftoepassings – maar dinge wat vir my belangrik is.

Nou dat ek besluite geneem het oor die meeste van die “groot” goed, kan ek vir die volgende ses maande daarop konsentreer om elke dag een stap te neem wat my nader aan hierdie doelwit bring. Dit hoef nie massiewe stappe te wees nie – bietjie inligting hier, ‘n kursus daar, maar elke stukkie vaardigheid wat ek nou opdoen sal help wanneer ek dit nodig het.
En ek kort ‘n groot skep emosionele weerbaarheid. Die “vibes” wat ek tot dusver gekry het van mense met wie ek te doen het, wissel van “Wie de hel dink jy is jy?” tot by “Wat weet ‘n vrou van boot bou?” en met ‘n bietjie “Jy wil wát??!” tusseningesprinkel. Dis min of meer dieselfde emosies waarmee ek moes sukkel toe ek my Oekraïense uitstappie beplan het. Maar ek is lus om daai manlike chauvinisme in die verkoops-dude se… jawél… op te druk. Ek sal nie, want ek wil graag die spons koop om die boot mee te bou, maar ek is baie trots op my selfbeheersing.
Die prentjie is duidelik, nie net in my kop nie, maar nou ook op papier. Ek is besig met ‘n kostebepaling, wat baie minder is as wat ek aanvanklik gedink het dit sal wees (maar nog steeds duur!), en om ‘n lys op te stel van toerusting vir beide die bouwerk en die boot sélf. Deesdae se bote het meer elektroniese speelgoed as wat ek gedink het, al is hulle dieselaangedrewe, alles om veiligheid op see te bevorder.
Hierdie projek, edeldierbare leser, is nie net moontlik nie, maar op party plekke selfs verspot maklik! Dit gaan werk kos, en (beslis) ‘n paar woorde wat nie sosiaal aanvaarbaar is nie, maar ek hóú van hierdie uitdaging. Ek as ek van iets hou, word dit gewoonlik deurgevoer.
Ek is ‘n vrou. Ek gaan ‘n boot bou. Deel daarmee!