Wat as ek goed genoeg is?
Wat as ek goed genoeg is?

Wat as ek goed genoeg is?

Ek het vandag gekies om positief te wees. Dis moontlik, met bietjie moeite en insig.

Jare gelede was ek by ‘n seminaar waar die spreker gesê het as ‘n mens ‘n doelwit het om te bereik, moet jy jou nie steur aan al die mense met verskonings en redes hoekom jy nie daardie doelwit kan bereik nie, al is hulle jou naastes en dierbares. Mense se opinies betaal nie rekeninge nie, koop nie koffie nie en kan nie daardie hol kol in jou siel volmaak nie. As ‘n mens ‘n doelwit het om te bereik, dan sit jy by die spreekwoordelike voete van mense wat óf alreeds is waar jy wil wees, óf goed op pad is daarheen. Dis mense wat jou “struggle” verstaan en wat jou kan bemoedig en raad en idees kan gee.

Wat ek dus die afgelope tyd doen, is om blogs te lees en videos te kyk van mense wat voltyds vaar, veral mense wat dit eiehandig (single-handed) doen, want dis die mense by wie ek kan leer. Ek kyk na videos van mense wat bote van glasvesel en konstruksiespons bou, want dis wat ek wil doen en ek kan hulle tegnieke naboots. Daar is orals inligting en raad beskikbaar, van hoe om ‘n goeie boot uit te soek tot hoe om ‘n verstopte dreinpyp oop te maak (jig, maar ja!). Toe ek moedeloos en vertwyfeld geraak het oor die aard en grootte van die boot wat ek uiteindelik besluit het om te bou, was daar ‘n videoreeks op my voorgestelde kyklys van iemand wat my gewys het dat groter nie altyd beter is nie en dat ‘n mens met ‘n kleiner bootjie teen ‘n rustiger spoed baie verder kan kom as met ‘n … wel… kompensasievaartuig. En my trolbootjie met sy 1,1 liter dieselenjin behoort heel goed met duur seiljagte op die oop see te kan kompeteer.

Ek het ook my opsies oopgestel. Om heeljaardeur op see te wees, klink lekker, maar daar gaan tye wees wat ek op land sal wil en moet deurbring, en dan wil ek nie al my geld aan ‘n hotel of losieshuis spandeer nie. Ons land is… interessant, maar dis nou eenmaal waar ek is, en daar is geen rede hoekom ek nie baie lekker hier kan bly nie. Wat ek nou sterk oorweeg is om ‘n leë erf of ‘n klein huisie op ‘n redelike erf iewers in die binneland van die Tuinroete te koop, wat my nie ‘n klein fortuintjie en ‘n paar belangrike organe gaan kos nie en waar ek rustig die boot kan bou en wat nie ver is van die naaste hawe af waar ek die afrondingswerk sal moet laat doen nie.

Ek is nie dom nie, maar ek het hierdie week met ‘n vissersbootkaptein gesels en ons het saam besluit dat as ‘n mens op see wil vaar, het jy die kennis van ten minste drie ambagte nodig. Dit gaan egter vir my die geld werd wees om sekere goed aan die eksperts oor te laat. Daar is onder andere “huisbedrading” van 220V vir my galeitoestelle en rekenaaruitset waaraan ek eerder nie wil karring nie, en die aanvanklike installasie van die dieselenjin is ook nie ‘n taak vir ‘n leek nie. Dit tersyde is daar heelwat ander installasiewerk wat ek kan verrig om daardie “drie ambagte” te verdien.

Op hierdie manier, sal ek nog steeds iets hê wat ‘n vaste waarde het en waar ek myself kan parkeer as die seisoen nie reg is vir die see nie. En ek sal my Permakultuurdroom ook kan uitleef, al is dit op klein skaal en volgens die seisoene. Prediker hét mos gepredik dat daar ‘n seisoen is vir alles onder die son.

Middeljarekrisis? O, verseker! Maar dis ‘n magneet wat my trek, eerder as net ‘n manier om uit my huidige werksomstandighede te ontsnap. Ek sien uit daarna om myself en die mense om my verkeerd te bewys en om kreatief te leef waar my EIE bepalings en voorwaardes geld, binne die verordeninge van ‘n geordende samelewing, natuurlik!

My skeloranje bootnotaboek is ‘n stil getuie van my gedagtes wat nie stil is nie. Ek het onder andere besef dat ek sal moet inkorporeer, al is dit as ‘n eenvrousaak met ‘n boekhouer, omdat die inkomstepotensiaal van ‘n YouTube kanaal redelik groot is vir ons Suid-Afrikaners. Dit gaan nie net oor die tantiéme nie, maar ook oor die potensiële wins uit die verkoop van handelsmerkgoedere. As voorbeeld het ek Johan Badenhorst, wat baie klein begin het met sy Voetspore-ekspedisies, en wat nou ‘n hele besigheid daaruit gebou het. Sy toere is nie verniet nie, maar hy het ‘n manier gekry om dit redelik gerieflik te bekostig. Dis belangrik.

Moenie vir my ma sê nie, maar daardie selfde tjokkavisserskaptein van die ambagte het hierdie week vir my ‘n merske kompliment gegee. Sy presiese woorde? “Dit lyk of jy hierdie saak goed bedink het.” Dis vir my lekker om te weet dat iemand raaksien dat daar heelwat dinkwerk en beplanning in my besluitnemingsproses ingaan, bo en behalwe die trane en gebede. Ek weet Murphy sal iewers uitkruip – daai Ier is alewig orals! – maar ek wil die vent so min as moontlik geleentheid gee om in my sake in te meng. Die uitsondering sal wees as hy vir my ‘n sopie Bushmills aanbied voor hy alles omklits, maar dit het nog nooit gebeur nie.

Soos wat dit nou lyk, gaan dinge dalk vinniger gebeur as wat ek aanvanklik beplan het, veral as daar vaste eiendomstransaksies ter sprake kom. Dit gaan makliker en lekkerder wees om aan die werk te kom as ek rus en vrede en my twee katte by my het, en op die Sewende Dag ander goed kan doen as boot bou.

Ek weet nie wat die toekoms inhou nie. Dis ‘n “hold my beer”-situasie op ‘n goeie dag. Wat ek egter wel goed weet, is dat dinge altyd uitwerk soos wat hulle bestem is om uit te werk, of ek nou van daardie proses hou of nie. Maar tot dan, bly daar geloof, hoop en ‘n hele boot vol drome.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui