Volgens die oorgelewerde gebruike van die voorgeslagte en die verordeninge van ‘n beskaafde samelewing… of miskien dalk net nié!
Volgens die oorgelewerde gebruike van die voorgeslagte en die verordeninge van ‘n beskaafde samelewing… of miskien dalk net nié!

Volgens die oorgelewerde gebruike van die voorgeslagte en die verordeninge van ‘n beskaafde samelewing… of miskien dalk net nié!

Wens ek verlede week iemand op die bakkiesblad geluk met sy verjaardag, net om ‘n boodskap van sy skoonma af te kry dat hy oorlede is! Riek sou 50 gewees het dié jaar, en al was hy ‘n urk met wie ek jare gelede kontak verbreek het, was sy dood nie ‘n lekker ding om van te hoor nie.

Daar is té veel van my skoolmaats wat nie meer daar is nie. Hopeloos té veel.

Ek het verlede November die besluit geneem dat ek nie meer vir die Munisipaliteit wil werk wanneer ek die dag 50 is nie. Dis oor ‘n jaar en 8 maande. Wat ek wil doen, gaan mense se wenkbroue laat lig, want dis nie iets wat “normale” mense aanpak nie. Trouens, ek weet nie eens of EK goed genoeg is daarvoor nie. Miskien koffie ek dit in hoofletters op, en moet ek terugkruip in my grot in. Maar aan die ander kant, sal ek ook nooit weet as ek nie probeer het nie, of hoe?

Wat ek baie sterk oorweeg, is om te kwalifiseer as ‘n “Off-shore” skipper, ‘n boot te koop (iets wat ek kan opbou) en letterlik die planeet daarmee te bevaar, volgens die seisoene en die seetoestande!

Nee, dit sal nie ‘n seilboot wees nie. Ek sal myself binne die eerste week (van opleiding) aan al die takelwerk ophang, so dit gaan nie prakties werkbaar wees nie. Ek oorweeg ‘n klein treilerboot, van so 10 meter, met ‘n battery-aangedrewe motor en die gewone goeie basiese geriewe waarop ek ek en my pelsjas(se) teen hoedspoed kan voortvaar.

Die vraag is nie of ek die boot sal kan regmaak en oopseewaardig maak nie. Ek is handig genoeg en daar is genoeg videos en ander artikels om my te wys hóé. Dis ook nie of ek die kursusse sal kan slaag en die ure op see sal kan opbou nie. Die grootste grap is seker ook dat ek die projek sal kan bekostig – as ek letterlike elke sent wat ek het daar gaan instoot, en miskien werk aan ‘n nuwe loopbaan as ‘n YouTubevideograaf. (Daar is nie baie videos oor vroue wat hierdie tipe ding alleen doen nie!)

Nee, my grootste vrees is die opinies van die mense vir wie ek omgee. Sênou ek kom met dié gedagte by hulle aan en hulle vertel almal vir my hoe ek te onnosel en te roekeloos en te oor-die-algemeen-nutteloos is om ‘n sukses van so ‘n projek aan te pak? Wat as hulle reken ek is nie goed genoeg vir hierdie droom nie en dat ek maar eerder dankbaar moet wees vir ‘n werk wat ek elke dag meer haat en wat my siel stelselmatig uit my uit suig? Sênou hulle lag my uit? Sênou hulle breek my hele menswees af in die proses?

Sênou ek is net doodeenvoudig te simpel, dom en kômmin om hierdie tipe ding te doen? Ná alles is ek nie van die soort wie se voorsate met soutwater in hulle are gebore is nie. Ek is ‘n biblioteektannie, met ‘n moewiese verbeelding en groot drome en ‘n baie seer merk waar die reisgogga haar gebyt het. En waddehel gee my die idee ek sal iets kan regkry waarvoor niemand wat ek ken kans sien nie?

Maar dis seker ‘n ander storie vir ‘n Maandag.

Ek het ‘n orraaiterige boot raakgesoek wat ek dink nogal kan werk. Sy is ‘n Staalspitsgat uit 1960, en sy bly naby Hamburg in Duitsland. Haar naam is Daisy en sy is rooi. Ja, die romp lyk goed, en die bostruktuur ook, maar binnekant is sy ‘n ramp! Ek vermoed iemand het haar begin regmaak en moed verloor toe dit by die binnekant kom. Ek gee nie regtig om nie – dis ‘n goeie geleentheid om die binnekant te moderniseer en meer ekoverantwoordelik te maak, sonder om die boot se karakter heeltemal op haar kop te draai.

Die duurste enkele uitgawe aan die boot is die aandrywingstelsel. Net so onder ‘n miljoen Rand. (Dis presies wat ‘n nuwe dieselenjin my ook sou gekos het, en dan moet ek nog die brandstof ekstra betaal!) Daai bedrag is darem ook nie net vir die motor nie, maar ook vir die batterye, die aansluitings, die omsetters en vir ‘n goeie son- en windkragaansluiting. Die ontwerp van die stelsel is ook by die prys ingesluit en die groot voordeel is dat al die ligte en elektriese toebehore ook saam met die enjin ingekoppel kan word. Dit beteken daar is nie twee batterystelsels nie en dat ek nie alewig van een sisteem na ‘n ander hoef om te skakel nie. Natuurlik kan ek altyd “shore power” gebruik as ek by ‘n hawe vasmeer en dis altyd ‘n goeie idee om ‘n klein jinneryterkie te kry om die batterye te laai as dit regtig krities noodsaaklik raak.

Wat ek ook hou van wat ek gesien het, is dat daar ‘n wêreldwye ondersteuningstelsel vir hierdie spesifieke aandrywingstelsel bestaan, met meeste van die komponente wat maklik vervang kan word. Dis ook ‘n 48V stelsel, wat beteken dat ek nie as ‘n elektrisiën gekwalifiseerd hoef te wees om die drade reg te maak nie. (Uit van die boeke en artikels wat ek gelees het, kan ek aflei dat bedrading vir goed 90% van die drama aan boord verantwoordelik is!)

Die tweede rede hoekom ek gaan vir ‘n elektriese aandrywingstelsel is omdat dit skoon is. Daar is nie allerhande olie en ghries en dampe betrokke nie. Dis ook relatief stil. Ek stel nie belang daarin om enige waterspoedrekords op te stel of te verbeter nie, so ‘n vaartspoed van so 6-7 knope is heel aanvaarbaar. Die een ding waaroor ek nie bekommerd gaan wees nie, is om binne ‘n sekere tyd by ‘n plek te wees. As ek regtig vinnig iewers moet kom, kan ek altyd vlieg!

Derdens is elektrisiteit relatief veilig. Ek wil nie regtig my boot deel met ‘n ton diesel en ‘n klomp gasbottels nie. Die elektriese boot beteken nie dat daar nie ‘n brand aan boord kan uitbreek nie, maar die kans daarvoor is baie minder.

Ek het nie ‘n keuse in die saak nie: ek sal ‘n digitale nomadiese bestaan móét voer, en my daaglikse brood moet verdien uit skryfwerk en videografie. Dis die deel wat my die bangste maak van hierdie projek, want misluk ek hiermee, sal ek soos ‘n wurm moet terugwriemel aarde toe, met almal wat my net aankyk met sulke uitdrukkings van “ek het jou mos gesê jy is nie goed genoeg hiervoor nie!”

Maar ek het reeds besluit dit sal nie gebeur nie.

Ek het egter twee persoonlikheidseienskappe wat my lewe aan boord baie gaan kompliseer as ek dit nie van die heel begin af gaan aanspreek nie. Dit gaan nie maklik wees nie – die een is redelik tot heeltemal in my DNS, en die ander een is al so lank deel van my bestaan dat ek nie kan sê wanneer en hoe dit begin het nie.

Ek is morsig. So, voor ek my katte en sakke pak en uit my huidige lewe uitstap, sal ek ‘n daadwerklike poging moet aanwend om meer gedissiplineerd te leef. Ek kan myself natuurlik forseer deur my opsies radikaal te beperk, maar dis ook ‘n saak van veiligheid, so ek sal netheid en orde moet inoefen tot dit die morsige deel van my DNS heeltemal vervang het. Ek gaan ook ‘n soort orde in my dag moet skep. ‘n Nuwe roetine met dosyne afmerklysies. Nie maklik nie, maar moontlik.

Die moeiliker deel gaan wees om van al my opgaargoed ontslae te raak. Ek vertrou glad nie meer mense nie en “goed” (“stuff”) het oor die jare vir my ‘n soort troetelkombersie geword. Besittings is nie onnodig krities nie, laat mens nie minderwaardig voel nie en steek jou nie in die rug nie. En van daardie besittings is belonings wat ek vir myself gekoop het omdat ek bepaalde mylpale in my lewe bereik het, so dit laat my eintlik nogal goed voel! Die probleem is dat my leefruimte nou gaan krimp tot die volume van ‘n skeepsvraghouer en dat ek bitter min van my besittings met my sal kan saamtrek. Dis doodeenvoudig nie prakties moontlik nie! Ek gaan die meeste van my boeke moet prysgee. (Die blote gedagte daaraan gee my al klaar hoofpyn.) En handwerkprojekte gaan ook fyn besnoei moet word. Maar miskien is dit ook tyd dat ek my lewe letterlik skoonmaak van al die bagasie. Die lekker goed en die minder lekker goed. Ook nie maklik nie, maar moontlik, en verseker broodnodig.

Wel, nou is die aap uit die mou. “Hulle” sê mens moenie jou drome vertel nie, maar ek voel ek moet dit deel. Want as ek dit nie deel nie, gaan ek nie met mense in aanraking kom wat kan help nie. Of wat idees kan gee nie. En alles gaan net so in my kop bly. Dus…

Die werk begin nou. Die meeste van daai werk is aan MY. Dissipline, selfvertroue en ‘n klomp fisiese en emosionele “decluttering.” Elke dag ‘n stukkie, tot ek reg is om die horison in te vaar.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui