Tegnologie is wonderlik – as dit werk!
Tegnologie is wonderlik – as dit werk!

Tegnologie is wonderlik – as dit werk!

Heil die leser!

Vandag het ek dit oor tegnologie wat al hoe kleinerder en kompakter en meer ingewikkeld raak, en om finaal afskeid te neem van ‘n “neukenaar” wat met ‘n hamster op ‘n wieletjie werk.Die rede vir my lang stilte het alles te doen met tegnologie wat nie werk soos wat dit moet nie. Ek kan nie eintlik die tegnologie blameer nie – dis oud, horingoud, soos in saam met oorle neef Noag in die ark gewees oud. Maar toe die skerm doodgaan, word die boks ook sommer oorbodig.

Gelukkig het selfoontegnologie oorgeneem by boksrekenaartegnologie, en met ‘n tablet, sleutelbord en muis (vir die tablet!) kan ‘n blogskrywer deesdae nogal ver kom. Al wat nodig is, is ‘n Internetkonneksie wat nie te onstuimig is nie.

Have tablet, will travel.

Al wat nou nodig is, is dat die gremlins wat my webbladsy opeet ook vasgevat word.

Die 50ste Jaar van Tessa is amper met ons, en ek beplan DV om dit ‘n woekerjaar te maak. Geen mens kan woeker as die nodige tegnologie nie in plek is nie. En ek is nie lus om te sukkel met dit wat ek nie kan beheer nie.

Dus…

Ek het besef dat ek BAIE meer moet skryf. Meer stories, korter stories, reg vir net vinnig lees so tussen die kosmaak deur. My lewe is nie so vol soos wat ek voorgee nie. En al is nie al my vrye tyd “beskikbare” tyd nie, keer niks my om so ‘n uur of twee per dag te tik nie. Dis my voorneme: om binne die volgende paar maande ‘n volwaardige tikster te word.

Groetnis!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui