‘n Kinkel in die storielyn
‘n Kinkel in die storielyn

‘n Kinkel in die storielyn

John Lennon het destyds gesê dat dinge in die lewe met ‘n mens gebeur wanneer jy ander planne het. Ek verstaan dit nou, na amper vyftig jaar.

Die boot waarna ek aanvanklik gekyk het, is nie seevaardig nie. Dis hoogstens ‘n ploetervaartuig vir die beskutte binnelandse water van Europa. En die koste was laag, want die boot was redelik tot heeltemal opgekoffie! Goed ek weet dit vooraf. Dit sou goor gewees het as ek myself ten volle toegewy het aan die insameling van daardie spesifieke bedrag, net om uit te vind ek spaar vir ‘n kat in die sak!

Die volgende potensiële vaartuig kos twintig duisend Euro méér! Hierdie keer is die boot se struktuur in ‘n goeie toestand, maar die hele vaartuig het bietjie vernuwing nodig, van die ligte en bedrading tot die toebehore en veiligheidstoerusting, met die houtwerk iewers tussenin! Daar is ook waterskade by die meeste van die patryspoorte, so ek sal moet kyk vir lekplekke en dié sal reggemaak moet word. En dan… ‘n hele nuwe elektriese enjin!

Hierdie boot gaan letterlik elke sent kos wat ek het. Dis nie baie in boot-terme nie, maar met ons ekonomie en geldeenheid wat relatief in sy hêppie kanon in is, is dit ‘n koninklike bedrag.

Tipies Tessa, dink ek natuurlik nie aan die negatiewe kant nie. Inteendeel, ek is besig om aan maniere te dink om nie net daardie geld te verdien nie, maar ook om vir my ‘n inkomste te genereer terwyl ek meestal op die water gaan wees.

Skryf is natuurlik my eerste en grootste gedagte, maar dis ‘n tydsame proses. Ek hou nie baie van AI (KI is vir aanteel!) nie, maar dis vir my ‘n maklike manier om goed te doen waarvoor ek nie lus is nie, soos soekenjin-optimalisering en om opsommings te skep vir die blog-artikels wat ek skryf. Maar ja, die eintlike skryfwerk doen ek sélf. En dit gaan nie gou nie.

Ek dink ook daaraan om YouTube videos te maak van die proses van boot soek en regmaak, en dit dan verder te voer as ‘n video-reisjoernaal. Dis ‘n baie klein nismark – ek weet van bitter min vroue wat solo-bootvaarders is, en hulle is omtrent almal op seiljagte. So dis ‘n unieke oogpunt. Die ander oogpunt is om ‘n kanaal te bedryf as ‘n bootvaarder wat “off-grid” vaar, met sonlig en wind as grootste energiebronne. En dan is daar natuurlik die hele “influencer-“tipe invalshoek, met die beste katoeters en om soos ‘n wafferse modepop by elke bestemming rond te flans, skemerkelkie in die hand. Ek het nie die vaagste benul wat mense sal wil sien nie, so ek sal maar net van ‘n kant af begin en dan verder gaan soos wat kykers kommentaar lewer. Ek reken die beste begin is met die proses om ‘n bootvaarderssertifikaat (skipper’s licence) te verwerf. Daar is baie om te wys, van die kursus self, tot al die ander kwalifikasies (soos noodhulp- en brandbestrydingsertifikate) wat nodig is om ‘n lewe op die oop see die hoof te kan bied.

Dan is daar ook die res van die voorbereidingsproses wat nodig is: die stelselmatige ontklottering en vereenvoudiging van my lewe, die ontslae raak van al die onnodige “goed” wat ek oor die afgelope paar jaar opgegaar het (en die gepaardgaande emosionele bagasie!). Daar is klein daaglikse dissiplines wat ek sal moet aanleer, en ek sal baie papierwerk in orde moet kry. Hoe meer ek hieroor nadink, hoe meer besef ek niks omtrent hierdie projek is maklik nie. Dis alles moeite. En toewyding. En dis alleen, want ek het nie ‘n maat om my te ondersteun nie. Daarby is hierdie hele idee geweldig radikaal, selfs volgens my gewone mal standaarde.

Is dit ‘n bevlieging? Heel waarskynlik. Impulsief? Nee.

Bietjie agtergrond: ek werk nou-al amper een-en-twintig jaar lank vir die Rustenburgse Munisipaliteit. Dis ‘n lang tyd om dieselfde pos te beklee, sonder enige vooruitsigte van ‘n bevordering. En ek is al amper vyftig jaar oud. Ek sien te veel van my kollegas en oud-skoolvriende wat doodgaan. En ek wil nie hier werk tot ek eendag “aftree-ouderdom” bereik het nie. Eerstens omdat ek nie noodwendig dan die gesondheid of energie gaan hê om te doen wat ek wil nie en tweedens omdat ek nie weet of ek so oud gaan word nie. My pa het nooit afgetree nie – hy is dood op nege-en-vyftig. Ek wil soveel as moontlik van die wêreld kan beleef, op ‘n kostedoeltreffende manier. Ek weet egter ook dat ek nie net kan oppak en padgee nie, want selfs al bly mens op ‘n selfstandige boot, is daar altyd iewers iets wat geld nodig het, en ek sal op ‘n manier myself moet kan onderhou. Dié dat ek aan idees dink wat meeste van die tyd boheems en revolusionêr is. En die res van die tyd heeltemal volksvreemd en radikaal!

Ene Pareto het ‘n teorie geboekstaaf wat lui dat tagtig persent van ‘n mens se resultate te danke/wyte is aan twintig persent van jou moeite. Die omgekeerde is natuurlik ook waar – tagtig persent van wat ‘n mens doen, lei tot net twintig persent van wat jy het. Wat ek ook gaan doen, is om ‘n ordentlike “vision board” (as daar ‘n goeie Afrikaanse vertaling is, laat my asseblief weet!) te skep van alles wat ek saam met hierdie loopbaanskuif en boot wil hê. Dis maklik om moedeloos te raak wanneer jou werk nie gelees/raakgesien/waardeer word nie, maar ek het klaar besluit dat ek elke dag ‘n sekere hoeveelheid werk gaan verrig, ongeag wie dit raaksien. Iewers gaan my moeite vrugte afwerp. As ‘n mens weet hoekom jy wilde, radikale en moeilike goed doen, is die moeite nie so erg nie. Ek glo ook dat daar ‘n Voorsienigheid is wat sal meewerk om hierdie doelwit te verwesentlik en wat klippe uit my pad sal rol waar nodig.

Jaco Jacobs het ‘n paar jaar terug ‘n bundel korterige jeugstories uitgegee, met die titel Net aliens eet spinasie. Maar – soos ons almal weet – soms, net soms, eet honde aliens! Ek gaan positief bly. Want hierdie doelwit gaan elke minuut van elke stukkie moeite wérd wees!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui