Permakultuurbeginsel 6: Moenie mors nie!
Permakultuurbeginsel 6: Moenie mors nie!

Permakultuurbeginsel 6: Moenie mors nie!

‘n Permakultuurgebaseerde struktuur is ‘n sisteem wat 90% geslote is. Enige-iets wat die struktuur binnekom, moet so ver as moontlik binne daardie struktuur bly en gebruik word. Behalwe dat Permakultuur arbeids-effektief en koste-effektief is, is dit ook iets wat min tot geen afvalprodukte (behoort te) lewer nie.

Hoe gebeur dit? Deur nie afvalprodukte in die sisteem in te bring nie!

Volgens die bewaringsgurus is 80% van ons besoedelingsprobleme te wyte aan verpakkingmateriaal – onherwinbare plastiek wat op ‘n ashoop iewers beland en dan van daar af orals heen wegwaai. Deur nie produkte in sulke verpakking te koop en in my huis in te bring nie, los ek dus heelwat van my probleme op.

Groente en vrugte kan gekweek word. Dis baie lekkerder om ‘n tamatie in die tuin te pluk en te byt as om ‘n winkeltamatie te eet. (Mens kan die koelkas próé!) Slaaisous kan self gemaak word, deur produkte te gebruik wat in herwinbare houers aangekoop word, of selfs vars kruie uit die tuin! Wanneer vrugte en groente wel in pakkies ingekoop word, kyk ek altyd hoe ek daardie pakkies kan hergebruik, meestal met die doel om saailinge te plant. En soms meer as een plantsel saailinge! Op dié manier kan ek die koste-per-keer regverdig en eers die plastiekding wegmaak as dit REGTIG nie meer ‘n doel het om te dien nie.

Ek drink duur koffie. Daar is twee redes voor. Die eerste is dat ek eerder minder régte koffie drink as lepelsvol sigorei en suiker. Die ander is dat die Weduwee Egberts se koffie in mooi glashouers verpak word wat ek kan hergebruik vir my droë bestanddele in die kombuis.

En dan is daar die onderwerp waaraan mense nie graag dink nie – biologiese afval!

Behalwe as hulle in ‘n stad bly en regtig nie ‘n keuse in dié saak het nie, weet ek van geen Permakultuurpraktisyn wat ‘n spoeltoilet verkies nie. Veral nie as dit beteken dat drinkbare water gebruik word om – wel – k…k weg te spoel nie! As ‘n mens na Permakultuurwebwerwe gaan kyk, sal jy vinnig agterkom dat ‘n groot klomp aandag aan toiletgeriewe bestee word, en meestal aan kompostoiletgeriewe.

My plan vir die Koingnaaserf, veral aan die begin, is geweldig eenvoudig: rig ‘n buitegerief op, maar skei die nat besigheid van die minder nat besigheid, sodat die nat besigheid direk na die tuin toe kan gaan en die minder nat besigheid met saagsels of klapperhaar gemeng kan word en later op ‘n komposhoop kan beland, om af te breek vir gebruik in die vrugteboord. Ek weet nog nie wat presies die (by)wetlike aspekte van so ‘n projek gaan wees nie, maar ek glo dat as ek dit reg bestuur, daar geen drama sal wees nie.

Daar sal natuurlik ander kompos ook wees, kombuisafval en moontlik tuinafval ook, maar ek voorsien dat ek aanvanklik al die houtagtige “vullers” sal moet inkoop, of die herwinbare papiersakke moet toepas wat die winkels saamgee, asook enige kartonverpakking, in stukkies geskeur. Maar die beste manier om van daai verpakkingsmateriaal ontslae te raak, is om dit te herwin, nie waar nie?

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui