Om baie te lees, is nie altyd ‘n goeie ding nie. Want dan kry mens idees… en idees is gevaarlik!
Jare gelede, as deel van ‘n kursus in Engels, moes ek ‘n module voltooi oor die konsep van “Intertekstualiteit.” Die veronderstelling was dat alle ervarings, en ander tekste waarmee ‘n individu voorheen in sy of haar lewe te doen gekry het, ‘n invloed het op sy of haar persepsie van enige daaropvolgende tekste. Baie akademies, maar dié teorie hou inderdaad water.
In hierdie geval, is daar ‘n hele paar boeke en ander gedagtes wat saamspan om die metode en filosofie te bepaal waarmee ek wilde doelwitte najaag en bereik. Daar is ook heelwat “oorgelewerde gebruike van die voorgeslagte” wat ek doelbewus ignoreer.
Wat is ‘n “nare, harige, voorbarige doelwit?”
‘n Nare, Harige, Voorbarige Doelwit (Big, Hairy, Audacious Goal) is ‘n doelwit wat net een keer in ‘n mens se lewe voorkom, en as ‘n mens daardie doelwit bereik het, is jou lewe glad nie meer dieselfde nie. Dis ‘n doelwit wat so groot is dat dit jou bang maak, en wat dag en nag by jou spook tot jy nie anders kan as om dit na te jaag nie.
In my geval was dit nog altyd om ‘n avontuurlike lewe te voer waar ek kan skryf, en om my stories met die res van die wêreld te deel. ‘n Lewe wat volgens my eie bepalings en voorwaardes ingerig is, en tradisie op sy kop keer, net omdat ek kan. Ek wil nie bloot bestaan totdat ek die dag doodgaan nie. Daar is genoeg mense op hierdie planeet wat dit doen sonder dat ek myself by hulle hoef te skaar.
Hoe pak ‘n mens só ‘n doelwit aan?
‘n NHVD word aangepak op dieselfde manier waarop ‘n mens ‘n olifant eet: een happie op ‘n slag! Die manier waarop ek na hierdie doelwit kyk, is dieselfde manier waarop ek enige kleiner en minder belangrike doelwitte beskou: ek besluit wat die resultaat is waarheen ek werk en bepaal dan die aksiestappe terug van daardie resultaat af tot waar ek op hierdie oomblik is.
Argumentshalwe, as ek my woonstel wil uitverf, begin ek met ‘n prentjie in my kop van hoe my mure sal lyk wanneer die verfwerk voltooi is, en skryf dan die aksiestappe neer wat gevolg moet word tussen waar ek nou hier voor die rekenaar sit en daardie uitkoms.
Die woonstel se mure is met ‘n praktiese kleur uitgeverf. >>> verf die mure >>> maak alles wat ek nie geverf wil hê nie, met ou lakens toe >>> trek ou klere aan >>> leen ou lakens >>> maak toerusting en verf bymekaar >>> koop toerusting en verf >>> besluit op die kleur >>> en so aan tot ek ‘n beginplek het, en ‘n volledige lysie van goed wat gedoen moet word, in ‘n bepaalde volgorde.
Omdat ‘n NHVD so groot is, is daar verskeie doenlysies wat soms gelyktydig afgehandel moet word. Soms is een aksie genoeg om meer as een taak afgehandel te kry, en ander kere moet meer as een aksie gelyk plaasvind. Dis vir my geweldig bevredigend om daardie lysies saam te stel en die stappe een vir een af te merk, maar ook frustrerend wanneer dit blyk dat omstandighede verander het, en die aksiestappe nie meer nodig is nie. (Soms is dit tog nuttig om te weet hoe om kaas te maak!) Om van voor af te begin, is altyd pynlik, maak nie saak hoeveel kennis ‘n mens van jou vorige pogings af behou en weer kan toepas nie.
Belangrik om te weet
‘n Droom wat nie ‘n sperdatum het nie, word nie ‘n werklikheid nie, en hoop is nie ‘n strategie nie. Daarby kos enigiets wat die moeite werd is, MOEITE. (Dankie, Johann!)
Daar is ook ‘n leerskool wat die beleid volg dat ‘n mens nie jou doelwitte wêreldkundig moet maak nie. Wat ander mense nie van weet nie, kan hulle nie vir jou opkoffie nie. My probleem is dat ek 90% van die tyd stoksielalleen is met net my gedagtes vir geselskap, en niemand het met wie ek oor my wilde idees kan gesels en wat as ‘n klankbord kan dien nie. Daar is niks so erg as om met iemand te probeer praat wat alewig té besig is nie. (En dan wonder hulle hoekom ek nooit met hulle praat oor my idees nie!) ‘n Mens kan ook net soveel gedagtes in ‘n joernaal neerpen voordat dit oorloop.
Wat ek dus nou hier doen, is iewers tussen ‘n joernaal en ‘n Sosiale Media-bladsy. Dis openbaar genoeg dat ek nie my probleme self hoef te hanteer nie (daar is genoeg mense wat weet wat ek nodig het en wat iewers iemand ken wat die kennis het wat ek nodig het en kan help!) maar ook privaat genoeg dat die hele planeet nie weet wat ek in die mou voer nie. ‘n Goue middeweg…
Die aap in Van Niekerk se mou
As jy my vorige artikels gelees het, sal jy weet dat ek beplan om teen my 50ste verjaardag op 7 November 2026 (dis die sperdatum!) my woonstel te smous, te bedank, ‘n orraait seeboot te koop wat effens groter is as ‘n vraghouer en met my katte op die sewe oseane rond te dobber op soek na Vikings, trolle, pikkewyne, Auroras (albei van hulle), koppesnellers, tropiese eilande en mense wat min of meer soos ek dink en doen. My “tribe,” soos die seilplankryers sê. Wat die projek aanvanklik geweldig duur en meer as net effens ingewikkeld maak, is dat ek nie met diesel en gas op die boot wil sukkel nie, so ek sal ‘n elektriese motor moet installeer, en die toebehore moet vervang.
Volgens die formule wat ek ‘n paar paragrawe terug verduidelik het, moet ek nou ‘n reeks afmerklyste maak van alles wat in plek moet wees en gedoen moet word om hierdie doelwit te realiseer, met die nodige begrotings en sperdatums vir elke item op die lysie. Ek kan sekere goed gelyk doen, soos om die ligte en toebehore te herbedraad dieselfde tyd as wanneer ek die dieselenjin met ‘n elektriese enjin vervang, en só geld en tyd spaar deur die herstelterrein/droogdok vir ‘n kort, intense tyd te bespreek en een of twee elektrisiëns/tegnici te kry om my met alles te help. Ek weet ook dat ek vooraf al die planne opgetrek moet hê, en die nodige voorraad voorhande, sodat ek nie hoef te sukkel en skarrel wanneer tyd beperk is nie. Kortom, hierdie hele projek gaan ‘n meesterwerk wees in projekbestuur, knipbord en al!
Daai groen goed…
Of ‘n mens ‘n individu of ‘n landsregering is, die feit bly staan dat niks moontlik is sonder geld nie. Meestal baie meer daarvan as waarvoor jy aanvanklik beplan het. Ek het egter ook al gesien dat wanneer ‘n mens gefokus is daarop om iets te bekom, jy geld van iewers af daarvoor sal máák. Die kuns is om dit te doen op ‘n wettige en etiese manier, en sonder om onnodig skuld aan te gaan.
Ek moet myself ook kan onderhou terwyl ek op die see rondflans, en dit behels heelwat praktiese vaardighede wat ek sal moet aanleer. Soos hoe om goeie videos te neem en dit aanmekaar te las op só ‘n manier dat dit ‘n boeiende7-minuutlange videogreep is van my daaglikse bestaan. Die toerusting en kennis daarvoor kos geld, maar daar bestaan ook die moontlikheid van ‘n goeie passiewe inkomste uit daardie videogrepe. ‘n Hele nuwe loopbaan, as jy dit só wil stel, waar ek al die teoriekennis waarop my graad gebaseer is met praktiese ondervinding kan kombineer en iets kan skep vir ander mense om te geniet.
En tussen alles deur, kan ek my stories skryf en publiseer, sonder die stres van ‘n werkgewersorganisasie wat die hele tyd soos ‘n donker, onheilspellende wolk om my gemoed hang.
Dis wat vir my belangrik is: die vryheid om te kan skep. En dis waarvoor ek my oor die volgende 18 maande gaan beywer. Want as ‘n mens weet wat jy wil hê, is dit maklik om daarby uit te kom.