Die besluit is geneem. Na baie dink en bid het ek somme gemaak en uitgewerk hoe ek ‘n erf naby die see kan bekostig sonder dat dit my ‘n jong fortuintjie uit die sak jaag. Ek het einde Augustus die koopaanbod geteken, maar die verkoper is iewers in die duine (hy is ‘n 4×4 toergids) en sal sy helfte teken sodra hy terug is by die huis. My aanbod is aanvaar (bietjie minder as die geadverteerde prys), so ek is nie vreeslik bang dat die koop deur die mat sal val nie. Dis ‘n groot erf – meer as 1000 vierkante meter – ‘n paar honderd kilometer verwyder van die naaste beskawing af, maar met dié koop, is ek redelik tot heeltemal vry! Dit beteken ek het keuses en kan bedank en loop wanneer ek reg is daarvoor, nie onder enige druk nie.
Gaan ek gatoorkop in ‘n groot huis in? Nee. Klaar huise op Koingnaas is ver bo my begroting. Inteendeel, ek gaan so goedkoop (verkieslik verniet!) as moontlik bly, al is dit net eers in ‘n ou weermagtent met palette vir ‘n vloer en ‘n verlengingskoord met ‘n multiprop vir ‘lektriek. Ek wil sien hoe loop die son en die wind en waar kom die mis en die reën vandaan (en hoe kan ek uit daai voordeel trek). Baie permakultuurlik, natuurlik! Baie dankbaar dat my ouers my nie as ‘n popsie grootgemaak het nie – ek sal kan oorleef!
En ek sal geleidelik bou, soos wat dit my sak en smaak pas. Sonder skuld, verkieslik.
Ek het ook gister met ‘n skok besef dat Koingnaas nader aan Kaapstad is as aan Kimberley. (300 Km nader!) Dit beteken dat ek my “Groot Inkopies” eerder in Kaapstad sal moet doen, elke 8 weke of so. Dis ‘n dag se ry af, ‘n dag se ry terug en so drie dae in die stad vir wat ek ookal moet afhandel. Klink soos my kleintyd in Natal, toe ons dieselfde gedoen het met Durbanuitstappies. Net sonder die klere aanpas!
Ek sal vir my ‘n sleepwa moet koop en ‘n sleephaak aan my kar moet laat installeer. Gelukkig laat my rybewys toe dat ek met ‘n standaardsleepwa mag bestuur – sal net bietjie moet oefen! En ja, die lewe se wiel draai nogal vreemd, soms.
Wat beteken dit prakties? Behalwe nou van die sleepwa.
Dit beteken ek sal baie fyn aan etes moet beplan – met ‘n kombinasie van vars vrugte en groente uit my tuin en blikke en pakke uit my spenskas. Ek sal ook ‘n plan moet maak met vleis – dalk een van daai jagkoelkaste wat belowe om bevrore goed ‘n week lank bevrore te hou – en vis, en bevrore groente. Gelukkig is ek goed met plan maak – dis die uitvoering van daardie planne wat soms moeilik is!
Maar eers kort daar ‘n handtekening, en ‘n prokurower se besonderhede. Vir die transaksie. En alles wat daarmee saamgaan.
So… terwyl ons wag, eers bietjie ander nuus…
Smudgie-kat was vanoggend vir haar opvolginentings en eerste hondsdolheidinspuiting dokter toe. Sy was baie soet tot ek haar in die mandjie moes sit vir die veearts se ontvangsarea. Sy hou nie van die mandjie nie. Gelukkig het so ‘n simpel Jack Russel net toe by die wagkamer ingekom en vir almal en alles geblaf. Stil Smudgie.
Die veearts wat ons gehelp het was ‘n Zimbabweër met die naam Pardon. Groot swart man wat duidelik gemaklik is met woelige klein katjies. Hy het haar sommer ook geweeg – 1,4 Kg se kat! – en wurmmuti gegee met so ‘n meghefter wat soos ‘n spuitnaald lyk, maar vir pille vir katte. Hy sê dis die maklikste manier, want katte het baie vinnige reflekse en byt baie vinnig baie hard en baie seer as mens jou vinger vir pille gebruik. Hy het ‘n wurmmuti saamgegee, so nou moet ek rondsoek vir so ‘n meghefter vir myself! Ter wille van om nie onnodig te bloei nie.

Iewers in hierdie hele halfeeuwordingsproses het ek ook besluit om meer goed sommer net alleen vir myself te doen. Soos om iewers ordentliks te gaan uiteet, met ‘n “table for me” of om ‘n vertoning te gaan bywoon. Ek het vanoggend oë toegeknyp en ‘n kaartjie gekoop vir ‘n konsert van die Ndlovu Youth Choir, wat wêreldwyd bekend is, maar nou vir die eerste maal regtig in Suid-Afrika rondtoer. Hulle is goed. Baie goed. En ek was lus om te gaan kyk hoe hulle optree. Sal vir myself ‘n lekker piekniekmandjie pak en sommernet sit en chill.
Waar hulle optree is ook lekker naby aan my huis. Dit pas my goed.
OK…
Dis waar ons nou is. Ons wag… en ons wees soet!