Om my Koingnaas-eiendom te koop, was ‘n groot stap in die rigting van my mal droom. Om die waarheid te sê, kan ek dit beskou as ‘n hele been van die olifant wat nou klaar verorber is. Die vraag is nou: wat is my volgende doelwit in die rigting van my droom?
Die volgende doelwit is die maklikste een om aan te werk, en die moeilikste om oor te praat.
Geld.
Ek moet ‘n manier kry om my huidige salaris nie net te vervang nie, maar te verdubbel binne die volgende twee jaar. Al die ekstra werk sal bydrae tot ‘n radikale vermindering van my skuld, maar dit ook baie makliker maak vir my om my werk te bedank sonder enige stres of drama.
So…
Waarvoor ek nou gaan werk is om my inkomste uit skryfwerk te verhoog na ‘n hele, volle $2500 per maand! Dis US$. Ironies genoeg, in Amerika sal daardie inkomste my laat kwalifiseer vir ‘n welsynstoelae. Hier in Suid-Afrika sal daardie bedrag my room laat skep. Dus…
Ek gaan nou maar die Deon Meyer ding doen – elke dag so ‘n uur of twee skryf, terwyl ek my voltydse werk nog steeds het, maar ek gaan enige ekstra inkomste wat ek verdien in my skuldrekeninge ingooi, dat ek dié so gou moontlik weg kan kry. Ek het nie baie skuld nie, maar my salaris is ook nie baie groot nie, so ek moet daarvan ontslae raak of ek wil of nié.
Dave Ramsey skryf van ‘n skuldsneeubal. Dis ‘n manier om ‘n mens se skuld te verminder deur die kleinste skuld eerste en heeltemal af te betaal, en dan daardie paaiement net so oor te skuif na die volgende skuld, en op die ou end betaal mens al jou skuld af sonder om te voel dat jy jouself iewers indoen. (Want dis geld wat jy in elk geval aan skuld sou betaal het!) Ek het my een duur winkelkaart nou klaar betaal en sommer die rekening gesluit, en beplan om daardie paaiemant van einde September af in ‘n kredietkaartrekening in te betaal totdat dié ook vinnig opbetaal en toegemaak kan word.
Daarmee saam gaan ek hard probeer om so veel en so vinnig te skryf as wat ek kan, sodat ek boeke op die mark kan kry wat vir my ‘n stabiele inkomste kan lewer. Ek sien suksesvolle skrywers op Amazon het réékse wat hulle uitgee, so dis definitief die opsie.
Die ander ding wat ek wil (leer) doen, is om goeie vlogs te maak. Ek het nog nie ‘n interessante leefstyl nie, en ek is ouer as 20, so ek weet nie of dit iets is wat ek sal kan regkry nie, maar ek kyk na mense wat ek volg op YouTube en waar hulle begin het, so ek reken om goeie videos te maak, is iets wat ‘n mens kan aanleer. Daar is ook heelwat videos OP YouTube oor hoe om ‘n goeie video te maak en te redigeer. Dus… Ek het eintlik nie ‘n verskoning nie. Al wat ek moet doen is om my vinger uit my… naeltjie… te trek!
Maar miskien moet ek by die begin begin. Skoonmaak. Ontklotter. Letterlik van alles ontslae raak wat my terughou. Daar is baie daarvan. Nie net fisiese “goed” nie, maar ook emosionele bagasie waaraan ek al vir ‘n lang ruk baie swaar dra. Ek voel net dat hoe gouer ek van daardie rommel ontslae kan raak, hoe gouer kan ek vry leef. Minder skoonmaakwerk en regpakwerk en “goed”.
Dis net ‘n kopskuif. Kopskuiwe is belangrik. En orde ook. Dis ‘n goeie “volgende.” En ‘n uitstekende begin!