Uiteindelik oor die Hond se Stert!
Uiteindelik oor die Hond se Stert!

Uiteindelik oor die Hond se Stert!

Dis die goedkoopste eiendom wat ek nóg verkoop het, maar dit was die meeste moeite! – Maureen, Eiendomsagent

Ek gaan nie met haar stry nie. Om die verkoper se handtekening formeel op ‘n stuk papier te kry, en dit ingeskandeer en ingestuur te kry, het letterlik nou twee weke gevat! Maar nou is daai deel van die transaksie uiteindelik afgehandel en wag ek op die amptelike kennisgewing van die prokurasie af om my in te lig oor hoeveel ek waar aan wie moet oorbetaal.

En dan het ek DV my Weskuseiendom!!!

Ek en Maureen het nogal lekker oor die weg begin kom. Sy bly self op Koingnaas, so sy kon my mooi vertel van wat daar is en nie is nie, en hoe ‘n mens jou inkopies en ander sake moet beplan. Sy herinner my aan ‘n jarelange vriendin van my ma in Keetmanshoop, Tannie Veronica van Dyk, met die manier waarop sy praat.

Nou wat volgende?

As die betalery nou eers eenmaal afgehandel is, met die nuwe salarisaftrekorder in plek, sal die lewe weer rustig aangaan. Ja, ek sal mooi moet meet en pas, want hierdie is nie ‘n maklike betaling nie, maar ek glo dat ek nie baie gaan sukkel om dit elke maand by te bring nie. En as alles reg uitwerk, het ek oor net oor 5 jaar TWEE opbetaalde eiendomme en kan ek rustig vroeg aftree. Dis nog altyd die plan.

Wat ek egter ook sal moet doen, is om my vinger uit my… naeltjie… te trek en erns te maak van my skrywery. Ek weet ek kan, want ek het al, en om ‘n goeie inkomste uit stories te verdien is nie onmoontlik nie. Dit gaan net ‘n ernstige omskommeling in my brein vereis. Dus…

As ek egter dink aan waar ek nou is, teenoor waar my gemoed so twee jaar gelede was, kan ek amper nie glo ek is dieselfde mens nie. Ek moes myself amper heeltemal oorbou, en herontdek wat my EK maak. Dit was nie maklik nie, want ek is nogal een van daai wat my identiteit in ander mense verloor. Die sielkundiges het waarskynlik ‘n woord daarvoor, maar ek is nie lus om te wonder wat dit is nie.

Ek het ook mooi gedink oor hoekom ek juis Koingnaas toe wil trek.

Ja, dis Weskus, en dis op my emmerskoplys vandat ek uit Matriek uit is (in die jaar her!), maar vir my is dit ook ‘n manier om myself heeltemal uit hierdie besige rotresies te verwyder en met relatief min aardse middele ‘n goeie bestaan te maak. Ek hoef nie elke dag petrol uit te ry nie (maar wel so eenkeer in twee maande twéé vol tenks!) en ek sal baie tyd hê om uit te werk wat vir MY (Tessa van Niekerk, nie almal om my nie!) belangrik is en saak maak.

Die eerste paar maande sal ek waarskynlik net lê en muf en al my innerlike ritmes weer aan die gang en in gelid kry. Dis ook reg en nodig.

My groot doel met hierdie oefening is om oopte en stilte te beleef en om saans te kan opkyk en die melkweg te sien. En om asem te kry en om elke dag ‘n bietjie meer te beweeg, tot ek baie beweeg!

En ek wil skep. Ek weet nog nie wat nie, want ek is een van daai mense wat elke kreatiewe ding wil probeer doen, maar dit sal hopelik iets wees wat my hande besig en kop skoon sal hou. Nie noodwendig skryfwerk nie – daai is meer my tweede loopbaan as ‘n stokperdjie – maar ek glo iets al my pad kruis. Mens weet nooit.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui