Ek kon nooit verstaan waaroor die hele “mindfulness” ding nou eintlik gaan nie, ten spyte van die media-bohaai. Wat dit egter vir my duidelik gemaak het, was – interessant genoeg – ‘n aweregse Netflix-reeks wat ek meestal moes léés, want my Duits is nie heeltemal op standaard nie. Dit handel oor ‘n semi-korrupte prokureur wat half gedwing word om bewustelik te lewe, sodat hy kwaliteit tyd saam met sy kleuterdogtertjie kan deurbring. Prioriteite…
Bewustelikheid is ‘n konsep wat nogal heeltemal in kontras staan met Westerlinge se leefstyl vandag, waar ons soveel as moontlik “lewe” in so ‘n kort tyd as moontlik probeer inprop, met allerhande katoeters en meghefters om ons te help om alles met een slag af te handel. Bewustelikheid gaan – soos ek dit nou verstaan – daaroor om absoluut te fokus op waarmee jy op enige bepaalde tydstip besig is, en dit af te handel, voor jy met die volgende ding begin. Dit beteken ook dat ‘n mens tyd moet maak om net te wéés, sonder enige onderbrekings, sodat jy jou liggaam, siel en gees weer in harmonie kan kry met mekaar. Dis afgeskakelde selfone. En om te ontdek wat regtig saak maak.
Ek is ‘n gespanne, angstige mens. My horlosie se spanningsmeter wys dat ek in die rooi leef. En ek is nie die enigste mense wat so sê nie – ek het ‘n kliniese diagnose! Die probleem is dat hierdie “senuwees” van my my bloeddruk en sommer alles anders beïnvloed. En dis nie goed nie. Nie eens op Maandae nie.
Skryfwerk help, veral met Viking-musiek in my ore! Dis asof daardie half primitiewe ritmes weet hoe om my siel stil te maak dat ek amper “normaal” kan dink
Die ander ding wat my help ontspan is as ek fisies kreatief is, met handwerk of houtwerk of wat die VLU “kunsvlyt” noem. Daai aksie van “spoeg en plak” help my brein ontspan. En dis vir my geweldig terapeuties.
Ek dink dis hoekom ek geweldig uitsien na die bootprojek. Ja, dis duur. Ja, dit gaan moeite kos. Nee, ek het nog nie ‘n bouperseel nie (Ek dink aan Maitland in Kaapstad – dis geweldig sentraal vir al die nodige aflewerings). Maar die ritme van patrone op industriële spons aftrek en uitsny, hars smeer en lugblasies onder glasveselvelle uitvryf is iets wat my nie intimideer nie, al het ek dit nog nooit gedoen nie. Inteendeel, dit lyk soos iets waarmee ek goed kan word.
Ek sien die bootbouproses in my verbeelding gebeur soos wat ek die projekbeplanning op ‘n Excel-spreitabel uitwerk (dankie, W!) en al maak dit miskien nie die werk minder of makliker nie, gee dit struktuur aan my droom en maak dit van die situasie ‘n goed uitgewerkte plan. Ek kan ook hier vinnig raaksien waar nog stappe moet inkom en teen wanneer wát moet gebeur. Dit help my om te fokus, want ek is geweldig verstrooid op ‘n goeie dag.
Hierdie naweek gaan ek ‘n paar videos kyk oor die maak van videos (hehe) en ernstig kyk na hoe ek met daardie dertig-minute-per-dag video-opnames kan begin. Ek het ‘n driepoot, ‘n heel kapabele selfoon en ‘n lapelmikrofoon. Ek sal die beligting meghefter met wat ek in die huis het. Die enigste manier om goed te word met enigiets is om dit te doen, oor en oor en oor en oor tot dit deel word van jou DNS. “Muscle memory” vir ‘n mens se brein, dat jy selfvertroue bou. En daai selfvertroue help baie meer as wat ‘n mens besef.
As ek ‘n dus ‘n paar simpel videos moet maak tot ek gemaklik voor ‘n kamera voel en nie die heeltyd oor my eie gedagtes struikel nie, dan is dit presies wat moet gebeur. Asem in… Asem uit…
In hierdie tyd wat amper die hele wêreld Amerikaanse maatskappye boikot, is dit nie baie “polities korrek” om die maatskappy te bevorder wat na ‘n rivier in Suid-Amerika vernoem is nie. Hulle is in elk geval geweldig duur vir die deursnee-Suid-Afrikaner, met aflewering wat dubbel soveel kos as die item self. Ek gaan dus fokus op twee inkopiewebwerwe waarmee ek al redelik te doen gekry het en met wie se diens ek heel tevrede is. Die een is Takealot en die ander een is Temu. Dis dalk oor hulle albei met dieselfde letter as my naam begin. So as ek iets sien wat oulik lyk en wat ek moontlik in my bouproses kan gebruik (of reeds besit en baie van hou!) gaan ek dit hier noem. Miskien hou julle ook daarvan of sien iets anders raak wat vir julle oulik is, en dan kan ek ‘n paar sente uit my verwysing verdien. Nie genoeg om my stinkryk te maak nie, maar ek hou al my bykomstige inkomstes eenkant (vir belastingdoeleindes) sodat dit nie in ‘n gat beland nie. As ek daaruit ‘n paar stukkies toerusting kan koop, of goeie afslag kan kry op items soos ‘n patryspoort, het dit ‘n goeie doel gedien. Weer eens ter wille van goeie verhoudinge met my mense en Jan Taks sal ek elke sent of geskenk verklaar. Ek glo daarin om die keiser te gee wat hom toekom, nie wat hy wil hê nie!
Ewentwel, hier is my Bootwenslysie op Takealot. Ek sal waarskynlik aanvul soos wat ek aangaan. En dit help ook as mense kan sien wat ek in gedagte het in terme van toerusting en bybehore. Miskien is hier ‘n bevare seeman of twee wat meer prakties dink as ek oor goed soos bedrading en kragpunte en so.
Dis ook ‘n projek vir hierdie naweek – lysies maak! Ek wil kyk watter toebehore en toerusting gebruik 12V krag en watter gebruik 220V-huiskrag, sodat ek die bedrading kan bedink. Die yskas, stoof en oond gaan beslis 220V bedraad wees, asook die krane, met hulle ingeboude keteltjies.
Toebehore is soos speelgoed – sodra mens op iets besluit het, en dit bestel, is daar ‘n nuwer, blinker iets op die mark. Ek sal maar begin met ‘n goeie basiese uitset en daarop voortbou, waar nodig, en ook op die videowerwe en forums kyk wat die meer ervare mense voorstel. Die idee van om uit ander se ervaring te leer is juis sodat jy nie self daardie ervaring hoef op te doen nie!
Dis dus wat nou in my lewe aangaan: bietjie droom, bietjie doen en my papierbeplanning agtermekaar kry sodat ek weet ek het alles oorweeg.
En wat ek nie kan uit-beplan nie, sal ek uit-Zen! Hmmmm…