
Dis wonderlik hoeveel ‘n mens kan regkry as jy jouself eers behoorlik aan ‘n doelwit toewy en weier om “Nee” vir ‘n antwoord te aanvaar. En nog beter wanneer die probleem wat jou die moedeloosste maak, deur ‘n burokratiese pyn-in-die-gat opgelos word!
Maar kom ek begin by die begin.
Om op enige water te vaar, het ‘n mens ‘n lisensie nodig. Daar is uitsonderings, soos ‘n klein ploeterbootjie op ‘n dam, maar die meeste ander vaartuie se gebruik word deur regulasies beheer.
In Suid-Afrika, word daardie maatreëls deur SAMSA bestuur. Hulle is die beheerliggaam oor Maritieme Veiligheid. Kortom, hulle kyk dat bote en skepe seevaardig is, en dat skeepskapteins min of meer weet wat hulle doen, want as ‘n vrag- of olietenkskip op die rotse loop, is dit ‘n duur gemors.
Die ander beheerliggaam in Suid-Afrika is die Royal Yachting Association, ‘n Engelse/Britse organisasie wat seevaarders oplei wat passasiersvaartuie loods. Hulle spits hulle meestal op seiljagte toe, maar het die afgelope paar jaar hulle aktiwiteite uitgebrei om ook motorbote en luukse jagte in te sluit. In Europa beheer hulle ook kragbootrenne.
Die twee veiligheidsorganisasies hanteer dieselfde kwalifikasies egter heeltemal verskillend.
SAMSA vereis dat ‘n voornemende seevaarder die heeltyd onder toesig moet wees van ‘n meer ervare kaptein, alvorens die “sea time” in aanmerking geneem word. Die RYA is meer vrygewig, in ag genome dat baie kleinvaartuigkapteins alleen vaar, of met ‘n baie klein bemanning. Solank die ure/seemyl korrek aangeteken word, is als koel. Hulle het egter ook sekere sertifikaatkursusse wat hulle as vereistes stel, en daar kan ‘n mens die regte opleiding en raad van ervare skeepskapteins en opleidingsbeamptes kry. ‘n Mens het ook tot 10 jaar (!!!) tyd om die waterervaring op te bou. Daarby is die RYA se teorie-kursusse en -eksamens (oopboek) aanlyn beskikbaar, en ek hoef nie myle ver na ‘n eksamensentrum toe te piekel om daardie sertifikate te verwerf nie. Dit spaar tonne tyd EN geld!
So, raai waar gaan ek my kursusse loop?
Ek is ook nou baie meer gemaklik met my besluit om my boot om te skakel na ‘n elektriese boot toe. Dit bly ‘n duur storie – maak nie saak hoe ek daaroor dink nie – maar die blote idee dat ek nie oor diesel of oor my reisomvang (travel range) hoef te bekommer nie maak my baie gelukkig. Ek sal egter my batterybank mooi moet beplan, en mooi moet dink oor die aard en kapasiteit van my sonpanele en ander kragopwekkers, maar ek is seker ek behoort nie drama te hê nie.
Die Suid-Afrikaanse reserwebank het natuurlik besluit om hulle valutamaatreëls te begin toepas. Normaalweg sou dit my nie gepla het nie, maar ‘n boot en alles wat daarmee saamgaan is ‘n geweldige groot uitgawe, en ek sal mooi moet uitvind hoe om te werk te gaan om die nodige geld na die buiteland toe te kan stuur. As dit daarop neerkom, sal ek die boot in Oktober/November koop en die omskakeling in Februarie/Maart laat doen. Dis weer eens ‘n massiewe pyn in die jawél, maar as dit beteken ek sal aan die regte kant van die gereg en die burokrasie bly, dan sal ek dit so hanteer!
Die voordeel van so ‘n “verdeelde” uitgawe is dat ek die nodige teoriekursusse kan afhandel terwyl ek nog voltyds werk, die boot kan koop (en regmaak wat nodig is) en dan in die volgende jaar die elektriese stelsel kan laat installeer. Dit beteken ek kan my boot “gewoond raak” en solank ‘n deel van die see-ure opbou met ‘n dieselenjin terwyl ek wag vir die kalender om om te slaan. En natuurlik klein herstelwerkies en opgraderings doen wat nie die valutabeperkinge sal oorskry nie.
OK, nou vir die vraag wat almal wonder: waar gaan Van Niekerk die geld vandaan kry vir hierdie projek?
Ek het só gedink…
Die nodige teoriekursusse sal ek betaal uit my salarisgeld uit. Dis nie goedkoop nie, maar ek kan relatief maklik geld opsysit daarvoor.
Die boot sélf sal ek befonds uit die verkoop van my woonstel. Ek het al te veel gesien hoe huurders ‘n eiendom soos toiletpapier gebruik, so dis nie ‘n opsie wat ek hoegenaamd oorweeg nie. Ek sal eerder die woonstel verkoop, en as die nuwe eienaar die plek wil uitverhuur is dit sy probleem om te hanteer.
Om die enjin te vervang gaan ‘n peperduur operasie wees, maar ‘n nodige een. Ek wil terselfdertyd die boot se elektriese stelsel ook vervang, en al die gas-toebehore met elektriese toebehore vervang. Volgens die foto’s wat ek al van my droombootjie gesien het, dateer die beligting uit die ark uit, so dit moet in elk geval verfris word om aan my behoeftes te voldoen. Die bootjie is as ‘n huur-hengelboot bedryf, so al die nodige toerusting is aan boord. Ek sal net alles moet nagaan en opdateer, waar nodig.
Daardie geld sal deels uit my pensioenfonds betaal word, maar ek beplan ook om ‘n videoblog van die omskakeling- en opgraderingsproses te maak vir YouTube. Ek glo dit behoort my ‘n paar los Dollar in die sak te bring, wat ek kan gebruik om vir my praktiese kursse en al die meghefters te betaal. Die YouTube videos sal verder strek as net die regmaak van die boot – ek wil my daaglikse ervarings op see ook so dokumenteer, sowel as uitstappies in die hawegemeenskappe waarby ek aandoen. Ná alles is my hoofdoel met hierdie hele projek om so wyd en ver moontlik te reis, en ‘n mens sou dom wees om nie (letterlik) daaruit munt te slaan nie.
Ja, dis ‘n gróót gedagte, en ook ‘n ernstige gebedsaak. Ek gaan letterlik elke laaste sent wat ek besit in hierdie projek insteek, EN ‘n paar sente wat ek nog nie besit nie. Ek het nie ‘n lewensmaat of trustfonds waarop ek kan terugval as dinge skeefloop nie, of wat my geldelik kan ondersteun tot hierdie projek ‘n inkomste begin lewer nie.
Dit alleen is genoeg om “normale” mense twee keer te laat dink. Ja, ek dink ook dis woes erg en ek is vrek bang dat ek alles gaan opkoffie. Ek meen – dis nie asof ek al ooit so ‘n projek aangepak het nie. Ek weet egter ook dis iets waaroor ek altyd sal spyt wees as ek dit nié doen nie. Ek kan ook nie deur die lewe gaan en heeltyd bang wees vir mislukking en ander mense se opinies nie.
Dis hoekom die Engelse hierdie ding ‘n leap of faith noem. Die tyd alleen sal bepaal of ek heel anderkant gaan uitkom. Intussen moet ek glo dat die Voorsienigheid sal beweeg en deure sal oopmaak wat ek self nie raakgesien het nie.
Ek stem saam… Whatever you think you can do, or believe you can do, do it!